Voorgestelde BTW-verhoging: Inwoners sê hul sê
Inwoners het hul mening oor die voorgestelde begroting uitgespreek, veral met die fokus op 'n verhoogde belasting op toegevoegde waarde (BTW).
Soos die Krugersdorp News se moederkoerant, The Citizen, onlangs berig het, word ’n 1%-verhoging in belasting op toegevoegde waarde (BTW) vir die volgende twee jaar voorgestel.
• Also read: New debt collectors coming for Mogale City residents who owe
Die News het dus besluit om die strate in te vaar om inwoners se mening hieroor te hoor.
Ruan Kunneke is van mening dat die ekonomie reeds geweldig sukkel.
“Mense gaan begin kla hieroor omdat hulle meer BTW sal moet betaal terwyl alles reeds duur is. Ek gaan eerlik wees –mense en klein besighede gaan juis sukkel om alles aan die einde van die dag te bekostig.
’n Hoër BTW beteken ’n groter aanvraag vir hoër salarisse om alles te kan bekostig. Ek glo nie dit is regverdig dat koste só verhoog word nie, en dit sal op ’n punt kom waar mense niks meer kan bekostig nie.
“Wat moontlik kan gebeur, is dat besighede werkers verloor as gevolg hiervan. Lae-inkomste huishoudings sal veral sukkel om alles onder beheer te hou. Nee wat, ek glo regtig dis onregverdig teenoor mense met lae salarisse,” het hy gesê.

Bejaarde inwoner Fanie Broodryk glo dit is onregverdig teenoor mense, veral die bejaarde gemeenskap, aangesien pryse aanhoudend styg. “Bejaardes probeer juis bybly met die koste van lewe,” het hy opgemerk.

Kgotso Zwane wonder watter verskil die verhoogde BTW werklik vir die land gaan maak.
“Nie lank gelede nie het die regering die BTW van 14% na 15% verhoog, en daardie geld het net in korrupsie verdwyn. Dit is net die minderbevoorregte en arm mense wat hierdeur geraak gaan word.
Hulle dink nie aan die meerderheid van burgers wat minderbevoorreg is nie. Die ekonomiese posisie van die meerderheid het reeds sedert die 1994-verkiesing verswak,” het hy gesê.
Inwoner Jane Visser glo dat die BTW-verhoging werkloosheid sal verhoog, besighede negatief sal beïnvloed en mense sal laat sukkel om basiese behoeftes te voorsien.

“Besighede se kostes gaan styg en inkomste sal daal. Bekostigbaarheid is ’n groot probleem – luukshede waaraan mense gewoond is, sal verdwyn, en besteebare inkomste sal iets van die verlede word.
Hoe laer jou salaris, hoe moeiliker word dit om jou behoeftes te akkommodeer. Dit sal lei tot ’n toename in misdaad en inflasie,” het sy afgesluit.
