Fondsinsameling wat die wenkbroue lig
’n Stylvolle fondsinsameling met Willem Botha en sy meesterklas vol humor, het die 372 gaste nie net waardevolle wenke ontvang nie, maar ook onvergeetlike herinneringe gemaak.
Vroue van die gemeenskap het op 10 Mei bymekaargekom om waardevolle grimeringwenke van grimeringskunstenaar Willem Botha te ontvang. Die dag is gereël as ‘n fondsinsamelingsgeleentheid deur die Vriende van The Bethany House Trust (BHT).
• Also read: Children’s savings stolen in Bethany House burglary
Die organiseerders van die dag, Marilize Ueckermann en Marina Hough, het verduidelik dat hulle ‘n vrywilligersgroep is wat in Augustus 2013 gestig is om BHT met projekte te ondersteun. Hierdie projekte sluit in die insameling van fondse, skenkings van goedere en die beskikbaarstelling van pro bono-dienste.


“Ons is ‘n projekspan wat projekte reël ten bate van BHT, ‘n welsynstrust wat spesifiek fokus op kinder- en jeugontwikkeling. Onder hulle bestuur val bekende fasiliteite soos die kinderhuise Bethany House, Ikusasa en Tikvah.
Die opbrengs van hierdie projek gaan direk aan BHT en sal aangewend word volgens hul behoeftes,” het Marilize verduidelik.
Volgens die organiseerders het 372 gaste die fondsinsamelingsdag bygewoon, en hulle beskryf dit as ‘n geseënde geleentheid.


“Die dames het met aansteeklike energie en opgewondenheid opgedaag. Gaste is bederf met heerlike ontbythappies, asook koffie of tee. Vooraf is daar lekker gekuier en gesels in die voorportaal. Toe die deure na die lokaal oopmaak, was almal in bewondering oor die pragtig gedekte tafels in skakerings van swart en rooi, wat perfek by die blommerangskikkings gepas het. Elke gas het ook ‘n geskenkie op hul tafel ontvang.”
Willem Botha het die program afgeskop met sy Make-Up Masterclass, en dit was werklik ‘n uitsonderlike ervaring. “Ons het gelag tot die trane rol. Die musiek het die atmosfeer lewendig gemaak, en Willem se skerp opmerkings en humor het ons aan die skater gelag,” het Marilize gesê.
Na afloop van die Masterclass is gaste getrakteer op ‘n heerlike buffet-middagete. “Die komplimente oor die dag het aanhou instroom, en ons is dankbaar vir elke persoon wat dit bygewoon het,” het sy afgesluit.


