Bejaarde paartjie wen ‘n splinternuwe motor
’n Doodgewone inkopietog eindig met ’n splinternuwe motor vir 'n Krugersdorp-paartjie.
Verbeel jou jy doen inkopies by jou gunsteling kruidenierswinkel, en iets trek jou aandag: ’n Kompetisie waarvoor jy kan inskryf om ’n motor te wen! Jy waag dit maar, en wragtig, kort daarna word jy ingelig dat jy die gelukkige wenner van ’n splinternuwe 2025 Hyundai Grand i10 Sedan is.
Dit is presies wat met Giel en Melinda Bezuidenhout gebeur het toe hulle onlangs SPAR Valley View op Robert Broomrylaan besoek het.
Winkelbestuurder Claudell Gouws het verduidelik dat dit deel was van die landswye SPAR Win a Car-kompetisie, waaraan al die takke deelgeneem het en waarin 50 motors gewen kon word.
Die kompetisie het so gewerk: Kopers wat enige van die deelnemende produkte gekoop en hul SPAR Rewards-kaart gebruik het, is outomaties ingeskryf,” het sy verduidelik.
Sy het met blydskap aangekondig dat Giel reeds in die tweede week van die kompetisie as wenner aangewys is.
Toe hulle op 21 Mei die motor gaan afhaal, was hulle oorweldig. Sy vrou het gesê sy kan steeds nie glo dat hulle ’n splinternuwe motor gewen het nie.
Claudell het afgesluit deur te sê dat hul tak nou al agt jaar bestaan, en dat dit die eerste keer is dat iemand van hul winkel die kompetisie wen.

