Local news

Studie, werk of albei: Wat kies dié jeug na matriek?

Drie jongmense deel hul unieke roetes ná skool – van kampus tot kantoor – en watter voordele en uitdagings elke keuse inhou.

Die jeug is die toekoms van die land, maar wat kan jong mense ná skool doen om te voorkom dat hulle deel word van die werkloosheidsyfer?

Die Krugersdorp News het met ’n paar jong mense gesels om uit te vind wat hulle ná skool aangepak het – of dit nou studeer, werk, of ’n kombinasie van albei was – en watter voordele en nadele daarmee gepaardgaan.

Zander Ladeira het in 2021 gematrikuleer en daarna sy passie vir aktuariële wetenskappe aan die Noordwes-Universiteit gaan volg.

Hy is tans in sy vierde jaar besig met sy honneursgraad, nadat hy reeds sy graad verwerf het. Hy sê die kursus help hom om sy tegniese kennis te verdiep en hom voor te berei op die beroep. Daarom glo hy universiteit is ’n belegging in enigeen se langtermyn-loopbaan.

Om te gaan swot is baie meer as net om ’n graad te kry en kennis op te doen.

“Jy leer baie van jouself en jou belangstellings, en jy bou ’n groot netwerk van mense wat soos jy dink en dieselfde belangstellings het. Hierdie kennis en netwerk kan baie deure vir jou toekoms oopmaak,” sê hy.

Hy voeg by dat ’n nadeel van om direk ná skool te gaan studeer is dat jy nie dadelik die gerief van ’n salaris het nie. Universiteit is ook duur en verg tyd, maar volgens hom oortref die voordele die nadele verreweg.

Wian Jordaan het egter die teenoorgestelde pad gekies. Drie maande ná hy in 2024 gematrikuleer het, het hy die arbeidsmark betree.

Wian Jordaan het na skool begin werk.

“Ek wou ’n onderwyser word, maar was nie 100% seker of dit regtig is wat ek wil doen nie. Ek het dus ’n oorbruggingsjaar geneem en by ’n skool gaan werk om seker te maak,” vertel hy.

Volgens hom was dit voordelig om te werk ná skool, omdat hy ’n salaris kon verdien, werkservaring opdoen en daagliks nuwe vaardighede aanleer.

Aan die ander kant sê hy dat een van die nadele is dat hy uit die leerroetine geval het, alhoewel hy glo dit was steeds die regte besluit.

Ek beveel sterk aan dat leerders wat onseker is oor hul studierigting, ’n jaar neem om werkservaring op te doen.

“Dis ’n uitstekende manier om nuwe geleenthede te verken, vaardighede aan te leer en meer selfvertroue te bou,” sê Wian.

Al geniet hy dit om te werk, erken hy dit is soms uitdagend. Tog is hy dankbaar vir die geleentheid om eerder te werk as om onmiddellik te gaan studeer.

Jayden van Niekerk het op haar beurt besluit om ná skool te gaan werk én terselfdertyd haar LLB-graad te voltooi.

Jayden van Niekerk studeer en werk gelyktydig.

Sy vertel dat sy aanvanklik ná matriek in 2022 begin studeer het, maar toe ’n gapingsjaar geneem het. In 2023 het sy weer begin swot, dié keer na-ure, terwyl sy voltyds as litigasie-assistent gewerk het.

“Ek sal dit aanbeveel om te werk én te studeer, want dit gee jou ervaring in die werkplek, dalk selfs in die rigting waarin jy studeer. Dit leer jou dat jy tot baie meer in staat is as wat jy dink. Ek sou nie só hard kon werk as ek nie daardie verpligtinge gehad het nie – dit druk jou om jou beste te lewer,” sê sy.

Sy sê die voordele sluit in dat jou tydsbestuursvaardighede verbeter, en dat toekomstige werkgewers dit aantreklik vind omdat dit wys jy is gedrewe en vasbeslote om jou drome te bereik.

“Die nadele is dat jy opofferings moet maak. Jy gaan soms tyd met familie en vriende moet opoffer, veral tydens eksamens – maar dit is tydelik,” sê sy.

“Dit was aanvanklik vir my moeilik omdat ek heeltyd gevoel het ek bly agter. Ek het gesien hoe ander mense die lekkerte van universiteit ervaar, terwyl ek oor naweke moes werk en studeer. Dit het lank gevat om te besef dat my lewenspad nie dieselfde is as dié van ander nie – en dat dit eintlik ’n seëning is dat my lewe anders verloop het. Andersins sou ek nie die geleenthede gehad het wat ek vandag het nie,” sluit sy af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button