Omstrede video wat wys hoe hawelose man kos weggooi, laat kykers woedend
“Hy het waarskynlik nie eers besef dit was ’n brood nie,” sê Melodie van Brakel van The Cradle of Hope ná 'n video waarin 'n hawelose man gesien word hoe hy 'n brood skop en weggooi, opslae gemaak het.
Na aanleiding van ’n omstrede video waarin ’n sogenaamde hawelose man gesien word hoe hy ’n brood rondskop en dit daarna weggooi, het die organisasie The Cradle of Hope gereageer.
Hulle het moontlike redes vir sy optrede verduidelik en terselfdertyd ’n beroep op die publiek gedoen om eerder nie direk aan bedelaars te skenk nie, maar eerder aan gevestigde hulporganisasies wat volhoubare ondersteuning bied.
Die video, wat op sosiale media versprei is, het die gemeenskap woedend gelaat.
• Lees die oorsponklike artikel hier: WATCH: A loaf of bread vs suspected homeless man: Buddy, that’s not a ball!
Melodie van Brakel, hoofuitvoerende beampte van The Cradle of Hope, sê haweloosheid is ’n komplekse kwessie wat dikwels saamgaan met alkohol- of dwelmmisbruik, sowel as geestesiektes – en hierdie drie faktore kan nie van mekaar geskei word nie.
Om die krisis van haweloosheid aan te spreek, sê sy, verg ’n multidissiplinêre en holistiese benadering wat verskeie aspekte insluit en wat tyd en volgehoue pogings vereis.
Dit sluit onder meer die volgende in:
• voorsiening van basiese humanitêre hulp, voedsame kos, skoon klere en wasgeriewe
• professionele maatskaplike dienste
• toegang tot toilette en rehabilitasiesentrums
• bystand met die verkryging van identiteitsdokumente en maatskaplike toelaes
• mediese hulp, insluitend toegang tot noodsaaklike medikasie
• hulp met persoonlike ontwikkeling
• ondersteuning met herintegrasie in die samelewing
• toegang tot werksgeleenthede
“Die benadering tot elke hawelose persoon is uniek en bied verskeie uitdagings. Sommige van die mense wat by verkeersligte bedel, is nie noodwendig haweloos nie, maar net baie arm – en soms bloot opportunisties. Die koeldrank en brood wat jy vir hulle gee, word dikwels huis toe geneem en met gesinslede gedeel.”
Sy sê soms is die ontvanger van ’n donasie in ’n katatoniese of euforiese toestand weens dwelmmisbruik of ’n geestesiekte, en is eenvoudig nie in staat om te reageer soos jy sou verwag nie.
“Die onlangse video op Facebook van die hawelose man wat ’n brood skop, is een so ’n voorbeeld. Hy was eenvoudig nie in staat om die donasie met dankbaarheid te ontvang nie. Hy het waarskynlik nie eens besef dit was ’n brood nie,” voeg sy by.
“Moet veral nie geld by verkeersligte uitdeel nie. Verskeie peilings wys dat veral ouer persone en vroue tot R500 binne drie ure kan verdien. Daarom is dit altyd beter om uit te vind watter organisasies in jou dorp eerbare werk doen om haweloses te ondersteun. Hierdie organisasies werk al vir baie jare met haweloses en weet hoe om jou donasie reg aan te wend,” sluit sy af.
