Boesemvriende wat saam sterf sou enigiets vir mekaar doen
Familie en vriende onthou Divann Senekal as 'n grapjas, trooster, gebedsvriend en rolmodel. Sy nalatenskap leef voort in almal wat hom geken het.
Die 22-jarige Divann Senekal is saam met sy beste vriend, Hilton Meyer (23), op 6 September in ‘n noodlottige botsing met ‘n ander voertuig op Hendrik Potgieterweg betrokke. Die oud-Monumentare is albei oorlede.
Beide families het hul vriendskap as onafskeidbaar beskryf en vertel dat die twee enigiets vir mekaar sou doen.
Divann se stiefpa, Werner Smit, het hom beskryf as ‘n mense-mens wat met almal oor die weg gekom het.
“Sy gelukkige menswees het op ander afgesmeer deur net homself te wees. Hy het ‘n groot impak gemaak op almal se lewens rondom hom. Divann was baie na aan die Here; dit het gewys in sy aksies en in sy wese. Soms, as ek buite die stad vir werk was, het hy ‘n boodskap gestuur: ‘you got this, hou net Jesus se naam altyd hoog’,” het Werner vertel.
Divann was van kleins af passievol oor rugby en het reeds op vier begin speel.
“Natuurlik was hy oupa Piet en ouma Erna se oogappel. Hy was die beste nommer 9 ooit en het geduik soos ‘n beer. Tog het hy die mooiste hart gehad – altyd die eerste een om te help. Sy kollegas by die bank waar hy gewerk het, het hom gesien as familie, nie net ‘n medewerker nie,” het Werner gesê.
• Lees ook: Huldeblyk aan Divann se beste vriend, Hilton
Hy het bygevoeg dat niemand ‘n braai wou hou as Divann nie daar was nie – die grapjas, die een wat ander getroos het en liefde uitgedeel het.
Hy en sy ma, Mariska, was volgens Werner mekaar se alles.
“Hulle was die totale betekenis van liefde. Divann was ook versot op sy sussie. Hulle het mekaar geterg en lekker saamgespeel – daar was nooit ‘n tekort aan liefde nie. Saam met sy jonger boetie was hulle een en dieselfde wanneer hulle bymekaar was – of dit nou rugby, krieket of Xbox was. Ek kan my net indink watter stoute dinge die twee al aangejaag het waarvan ons nie weet nie,” het Werner laggend met trane in sy oë vertel.
“Divann was liefde. Ek en hy was meer soos broers as pa en seun. Ons sou nog hierdie maand motorfietse gekoop het en alles saam doen. Ek wag steeds elke aand dat hy voor die hek stop en sê: ‘hello pa, wat maak pa?’ Of dat hy soggens sy ma ‘n dom grappie stuur, net hello sê of sy stem op ‘n voicenote laat hoor,” het Werner bygevoeg.
Divann was besig met verdere studies en het reeds 100% behaal vir sy eerste vier modules.
“Ons gaan hom ongelooflik mis – my wingman, sy mamma se alles, sy broer en suster se rolmodel, oupa en ouma se hartspunt. Ons weet God werk volgens ‘n plan en dat Divann nou by sy hemelse Vader is, en dat hy ‘n vol lewe in sy 22 kort jare gehad het. Tog was dit te vroeg. Die seer sal altyd in ons harte bly, maar hy sal nooit vergete wees nie. Sy lewe sal in ons harte ingebrand bly en uitgeleef word soos hy dit sou wou hê,” het Werner afgesluit.
Divann is op 11 September vanuit die AGS Simfoniekerk, Witpoortjie-gemeente, begrawe.
‘n Ondersoek is aanhangig weens die betrokkenheid van nog ‘n voertuig in die ongeluk. Die Krugersdorp News sal meer inligting publiseer sodra dit beskikbaar is.
