Christiaan net kort van Guinness-rekord – SA se nommer een trekklavierspeler
Christiaan Ras van Krugersdorp-Wes het dag en nag gespeel in ’n dapper poging om die Guinness Wêreldrekord te breek en eindig as tweede beste ter wêreld.
Christiaan Ras, bekende trekklavierspeler van die Klipwerf Orkes, het onlangs gepoog om die Guinness Wêreldrekord vir die langste ononderbroke trekklavierspel te verbeter met ’n 100 uur lange musiekmarathon.
Christiaan, ’n inwoner van Krugersdorp-Wes wat al meer as 35 jaar trekklavier speel, het op 26 Desember in die Paarl sy rekordpoging aangepak. Die huidige rekord word deur Christelle de Franceschi van Frankryk gehou, wat in 2024 vir 80 uur, 53 minute en 28 sekondes aaneenlopend gespeel het. Christiaan het vanaf Vrydagoggend tot Maandagoggend, dag en nag gespeel, maar moes weens gesondheidsredes ná 72 uur en 40 minute ophou.
“Dit was wonderlik om ons boeremusiektradisie met die wêreld te deel en my passie uit te leef,” het hy gesê.
• Lees ook: Krugersdorp-musikant beoog Guinness-rekord met langste trekklavierspel
Een van die hoogtepunte vir Christiaan was sy prestasie om vir meer as 40 uur op ’n 120-bas trekklavier te speel – ’n aansienlik groter instrument as dié van die huidige rekordhouer. Al het hy nie daarin geslaag om die rekord te breek nie, het hy met trots aangekondig dat hy nou tweede in die wêreld is en die nommer een posisie in Suid-Afrika beklee.
Hy beplan om die uitdaging in April van voor af aan te pak, met beter voorbereiding, ’n toegewyde span, verbeterde leefstyl en beter toerusting.
“Ek wil my vrou bedank vir haar volgehoue ondersteuning, asook almal wat deel was van hierdie reis,” het Christiaan afgesluit.
