Jong rugbyster se groot stryd teen leukemie
Nathan Britz (11), ’n Laerskool Kenmare-leerder met groot Springbok-drome, is met ’n aggressiewe vorm van leukemie gediagnoseer en toon elke dag buitengewone veggees.
Die lewe van Nathan Britz (11), ’n leerder van Laerskool Kenmare en aspirant Springbok, het op 23 November ’n dramatiese wending geneem toe hy gediagnoseer is met T-sel akute limfoblastiese leukemie (T-ALL), ’n aggressiewe vorm van bloedkanker.
Hierdie tipe kanker kan ook na ander organe, soos die brein, rugmurg en limfknope, versprei.
Sedert die diagnosis voer Nathan elke dag stryd met dieselfde moed, vasberadenheid en nooit-opgee-gees as wat hy op die rugbyveld toon.
Sy pa, Coenie Britz, beskryf Nathan as ’n kind met ’n groot omgee-hart, altyd bereid om ander by te staan, selfs terwyl hy self swaarkry.

“Nathan is die kind wat altyd sal aanbied om te help. Sy hart is op die rugbyveld, waar hy dissipline, moed en deursettingsvermoë aanleer – dieselfde geestesinstelling bring hy nou na die behandeling wat hy daagliks ondergaan,” sê Coenie.
Nathan ontvang tans behandeling by Charlotte Maxeke Hospitaal en ondergaan gereeld chemoterapie. Ten spyte van die uitdagings en pyn bly hy optimisties en gemotiveerd. Sy liefde vir rugby hou hom gefokus en gee hom die krag om vol te hou. Volgens sy BackaBuddy-blad het rugby vir Nathan geleer om ná elke stamp op te staan, en dieselfde gees bring hy nou na sy stryd teen die siekte.
Die gesin ondervind ’n groot finansiële las, maar waardeer die omgee, gebede en bystand van die gemeenskap opreg.
“Ons wil graag dankie sê aan almal wat saam met ons bid, aan ons familie wat onvoorwaardelik bystaan, asook aan Nathan se maats en hulle ouers wat altyd omgee en betrokke bly. Dit is ons geloof en die gemeenskap se ondersteuning wat ons staande hou,” het Coenie gesê.
Indien jy tot Nathan se behandeling wil bydra, kan jy dit doen deur sy BackaBuddy te besoek.
