Local newsMunicipal

Bome langs kragdrade veroorsaak onderhoudskrisis

Mogale City erken hulpbronbeperkings en bevestig dat ’n span ontplooi is om die agterstand met boomafval en parkonderhoud aan te spreek

Silverfields-inwoner Anton Ferero het vir byna twee jaar probleme ondervind met bome op die sypaadjie wat in die kragdrade ingegroei het. Dié takke is uiteindelik gesny, maar het volgens Anton sowat drie weke lank op sy sypaadjie gelê.

“Ons kon nie die gras sny nie. Die parkie in Chelsealaan word ook nie onderhou nie, en boemelaars het hulle daar gevestig,” het hy verder verduidelik.

Ferero het met ’n munisipale amptenaar gekommunikeer en uitgevra of die trok wat die takke moes verwyder, die enigste een is wat Mogale beskikbaar het, aangesien dit vir herstelwerk ingeneem was. Hy meen die bome is nie behoorlik gesnoei nie en voorspel dat dieselfde probleem binnekort weer gaan voorkom. Op 11 Februarie het hy aan die Krugersdorp News bevestig dat die takke intussen verwyder is.

Takke op die sypaadjie.

Die News het Mogale City Plaaslike Munisipaliteit se hoof van korporatiewe kommunikasie, Adrian Amod, om kommentaar genader. Amod het bevestig dat die munisipaliteit bewus is van die takke op die sypaadjie asook van die kommer oor die instandhouding van die park.

“Hoewel ons Parkebestuur tans hulpbronbeperkings ervaar, veral met betrekking tot grypvragmotors wat afval moet verwyder, is herstel- en onderhoudswerk gedurende Januarie uitgevoer. Tydens hierdie tydperk het boomkapbedrywighede voortgeduur, wat gelei het tot ’n ophoping van takke. Nou dat bedrywighede genormaliseer is, is hulpbronne ontplooi om die agterstand in verskeie gebiede te prioritiseer,” het Amod gesê.

Also read: Streetlight failures leave parts of Krugersdorp CBD in darkness

Hy het verder genoem dat ’n toegewyde span aangestel is om die oorblywende puin te verwyder en met roetine-parkonderhoud voort te gaan. Hierdie aktiwiteite word so gou moontlik afgehandel, onderhewig aan operasionele omstandighede.

Die boon onder die kraglyne.

“Die munisipaliteit ervaar steeds uitdagings as gevolg van ’n hoë aanvraag na dienste en ’n beperkte beskikbaarheid van gespesialiseerde voertuie en ander operasionele hulpbronne, weens begrotingsbeperkings. Dit veroorsaak soms vertragings. Nietemin bly die munisipaliteit verbind tot die verbetering van dienste en die instandhouding van openbare ruimtes volgens aanvaarbare standaarde.

“Ons waardeer die publiek se rol om diensleweringsaangeleenthede onder ons aandag te bring. Inwoners word aangemoedig om voort te gaan om bekommernisse via die amptelike munisipale kanale aan te meld om sodoende vinnige reaksie en effektiewe uitkomste te verseker,” het hy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Heinrich Greyling

Heinrich Greyling is a LLB student, which gives him an eye in fairness towards everything he writes about, with a passion of uncovering the truth. If the relevant information is available, he is willing to help anybody, with a keen interest in hard, crime, entertainment, municipal, human interest and automotive journalism. He is a journalist who is willing to write about anything, no matter the controversy or risks involved.
Back to top button