Gemeenskap help Nathan om sy kankerstryd te wen
Die 11-jarige Kennies-leerder Nathan Britz, wat met ’n aggressiewe vorm van leukemie gediagnoseer is, ontvang gemeenskapsondersteuning terwyl hy sy stryd teen kanker aanpak.
Die Britz-gesin se lewe is in ’n oogwink verander toe hul seun, Nathan (11), in November met ’n aggressiewe vorm van leukemie gediagnoseer is.
Nathan, ’n leerder aan Laerskool Kenmare met groot drome van ’n rugbyloopbaan, is met T-sel-akute limfoblastiese leukemie (T-ALL) gediagnoseer – ’n baie aggressiewe vorm van bloedkanker. Soos voorheen berig is, veg Nathan sedert sy diagnose daagliks met dieselfde moed, vasberadenheid en deursettingsvermoë wat hy op die rugbyveld demonstreer.
• Lees die oorspronklike berig hier: Jong rugbyster se groot stryd teen leukemie
Sy pa, Coenie Britz, beskryf Nathan as ’n seun met ’n groot hart en omgee-gees – altyd bereid om ander te help, selfs terwyl hy self deur moeilike tye gaan.
Die behandeling wat Nathan tans ondergaan, plaas egter ’n enorme finansiële las op die familie. ’n BackaBuddy-blad is van stapel gestuur om hulp te bied om die mediese uitgawes te dek: NATHAN BACK BUDDY LINK
Gholfdag bring nuwe hoop
Nathan se storie het ’n inwoner, Tandy Burger, diep geraak. Sy het ’n gholfdag gereël om fondse in te samel vir die Britz-gesin.
“Ek, as ma, kon my nie indink wat dit vir hulle as gesin moet beteken nie,” sê sy.
Die doel van die gholfdag is om die familie finansieel te help, aangesien alle fondse direk vir Nathan se mediese behandeling en onverwagte uitgawes aangewend sal word. Die gesin beskik nie oor ’n mediese fonds nie.
Die gholfdag vind op 10 April by die Krugersdorp Gholfklub plaas, met ’n gelyktydige afslaan (“shotgun start”) om 11:30. ’n Vierbal kos R2 800, wat karretjies en ’n ete insluit. ’n Vierbal met ’n geborgde putjie kos R3 500. Om slegs ’n putjie te borg, beloop die koste R1 000.
“Ons wil graag die gemeenskap en ander skole uitdaag om betrokke te raak, sodat ons ’n daadwerklike verskil in hierdie jong man se lewe kan maak. Indien daar besighede of individue is wat by die dag wil betrokke raak – onder andere deur pryse of skenkings te borg – is hulle baie welkom om ons te kontak,” het sy bygevoeg.
Belangstellendes kan vir Karel skakel by 079 685 2404, vir Marina by 082 852 5833, of ’n e-pos na sales@azariahgroup.co.za stuur.
“Ons leef in uitdagende tye, maar as ons saamstaan en hande vat, kan ons ’n groot verskil maak,” sê Tandy Burger.
Lees hier: Mishandelde hond se redding wys nood in Krugersdorp-Wes
Coenie Britz het aan die Krugersdorp News bevestig dat dit tans goed gaan met Nathan. Hy begin op 2 Maart met sy derde sessie van die HR-blokbehandeling.
“Dit behels ’n weeklange chemoterapie, van Maandag tot Saterdag. Indien sy bloedtellings goed lyk, sal hy daarna huis toe kan gaan. Sy liggaam rus dan vir drie weke voor die volgende sessie,” het Coenie afgesluit.
