Dean skitter met 14.19m by Gauteng-kampioenskappe
Dean Jordaan beïndruk by die Gauteng-kampioenskappe en kwalifiseer vir die SA’s in Kaapstad.
Dean Jordaan, ’n leerder van Laerskool Krugersdorp-Noord, het die o13-seuns-gewigstoot gewen met ’n indrukwekkende afstand van 14.19m.
Volgens die skool se woordvoerder, Quintin Botha, het Dean hierdie prestasie tydens die Gauteng-kampioenskappe op 14 Maart behaal. Hy het intussen ook vir die Gauteng-span gekwalifiseer wat hierdie week in Kaapstad aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe gaan deelneem.

“Dean se grootste droom in gewigstoot is om hierdie week ’n eerste plek by die SA’s te behaal. Dit sal hom ’n groot tree nader bring aan sy uiteindelike droom om eendag aan die Olimpiese Spele deel te neem,” het Quintin gesê.
Quintin het verder verduidelik dat Dean se pad na hierdie prestasie gebou is op harde werk, deursettingsvermoë en baie oefening.
“Een van sy grootste uitdagings was om die hoë doelwitte wat hy vir homself stel, te bereik. Met vasberadenheid en fokus het hy aanhou werk om elke keer beter te presteer, wat uiteindelik tot hierdie groot prestasie gelei het,” het hy afgesluit.
Lees ook : Nuwe tehuis vir bejaardes met daknatmaak gevier
