Local news

WAS Foundation soek hulp ná dakramp

’n Vloed en ernstige dakskade het ’n sopkombuis in Krugersdorp-Wes tot sluiting gedwing; die organisasie vra nou dringend hulp om hul dienste te kan voortsit.

Die We’re Against Starvation (WAS)-stigting se missie om honger mense met waardigheid te voed, is erg belemmer deur ‘n onlangse vloed.

Die organisasie verskaf daagliks maaltye aan ongeveer 180 tot 200 kinders en bedien sowat 350 ander mense in die middag by hul sopkombuis in Krugersdorp-Wes.

Volgens die stigter, Esmarelda van Zyl, het hulle in 2020 ’n huis aangekoop spesifiek omdat dit naby ’n skool geleë is waar baie kinders gevoed word, en ook in ’n gemeenskap waar daar groot nood bestaan.

Die Was Foundation voorsien etes aan sowat 180 tot 200 leerders per dag. Foto ingestuur

“Die huis is baie oud, en mettertyd het die eetsaal se dak begin lek. Ons moes dus herstelwerk aan die dak laat doen. Die eetsaal is vir ons van kardinale belang, omdat ons nie net kos wil uitdeel nie, maar ook mense die geleentheid wil bied om in waardigheid saam ’n ete te geniet,” het sy verduidelik.

In Februarie 2024 het hulle ’n kontrakteur aangestel om die skroewe op die dak te vervang en dit te rubberiseer, maar sake het nie volgens plan verloop nie.

“Die probleme het begin toe dit die eerste keer ná die werk gereën het, en die dak selfs erger begin lek het. Die versekering se assessor het bevind dat die skroewe glad nie vervang is nie, en dat die dak bloot net geverf is,” het sy verduidelik.

Lees ook: Tannie Koekie vier 100 jaar

Die situasie het verder versleg tydens die onlangse swaar reëns, toe die eetsaal sowat twee weke gelede oorstroom het. Esmarelda moes toe aankondig dat die saal gesluit is.

Daar is egter lig aan die einde van die tonnel: ’n Geregistreerde kontrakteur het aangebied om die eetsaal se dak te herstel en die arbeid gratis te verskaf. Die koste van materiale beloop egter R75 797 vir die vervanging van dakplate en R22 911 vir houtbalke.

Indien u graag wil bydra tot die herstel van die sopkombuis, kan u vir Esmarelda kontak by 071 353 3201. Donasies, insluitend dakplate, kan ook by Tannerstraat 71 afgelewer word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Heinrich Greyling

Heinrich Greyling is a LLB student, which gives him an eye in fairness towards everything he writes about, with a passion of uncovering the truth. If the relevant information is available, he is willing to help anybody, with a keen interest in hard, crime, entertainment, municipal, human interest and automotive journalism. He is a journalist who is willing to write about anything, no matter the controversy or risks involved.
Back to top button