Leukemievegter ontmoet sy rugbyhelde
Die jong Kenmare-leerder Nathan Britz, wat tans teen ’n aggressiewe vorm van leukemie stry, beleef ’n onvergeetlike dag toe hy sy rugbyhelde ontmoet en saam met hulle op die veld uitstap.
Een van die 11-jarige Nathan Britz se drome is vervul toe hy die Lions-rugbyspelers en rugbylegendes ontmoet het.
Die Laerskool Kenmare-leerder is verlede jaar gediagnoseer met T-sel akute limfoblastiese leukemie (T-ALL), ’n aggressiewe vorm van bloedkanker. Soos voorheen berig, lê Nathan se hart op die rugbyveld.

Lees ook: Jong rugbyster se groot stryd teen leukemie
Op 21 Maart het Nathan die voorreg gehad om die Lions-rugbyspan te ontmoet tydens ’n Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen Edinburgh, sowel as rugbylegendes soos Jaques Fourie en Morné Steyn.
Sy pa, Coenie Britz, vertel dat Nathan saam met die span opgewarm het, vir almal ’n “high five” kon gee, en saam met hul gelukbringer, Mufasa, die veld betree het.


BackaBuddy-blad: Nathan Never Gives Up – Cancer Fight
“Dit was vir hom baie spesiaal; hy het dit ongelooflik geniet,” sê Coenie.
Die hoogtepunt vir Nathan was om in die losie te kon sit en die wedstyd saam met sy pa te kyk – iets wat Coenie as ’n uitstekende wedstryd beskryf het.


“Nathan het die hele dag met ’n glimlag rondgeloop. Hy kon nie ophou praat oor sy ervaring nie. Ons het selfs gesels oor hoe hy en sy boetie dalk eendag self op die veld sal uitdraf en rugby speel,” voeg Coenie by.
Coenie het afgesluit deur te sê dat hulle uiters dankbaar is teenoor almal wat hierdie spesiale dag vir Nathan moontlik gemaak het.