Tannie Jossie steeds skerp en ‘n inspirasie vir jonk en oud
Selfs op 100 bly Jossie Schoeman van Noordheuwel ’n bron van inspirasie, wysheid en deursettingsvermoë.
Jossie Schoeman het op 7 April haar 100ste verjaardag gevier – ’n merkwaardige mylpaal gevul met liefde, wysheid, opoffering en geloof.
Haar skoondogter, Winnie Schoeman, vertel dat Tannie Jossie in die Karoo op ’n plaas buite Laingsburg grootgeword het. Sy was die vierde oudste van 16 kinders. Sy het in Mosselbaai gematrikuleer en daarna na Grahamstad in die Oos-Kaap verhuis, waar sy haar opleiding by die Ford England Psigiatriese Hospitaal voltooi het.
Dit is ook daar waar sy haar man ontmoet het. Hulle is getroud en het twee kinders gehad – ’n seun en ’n dogter.
Op 65-jarige ouderdom het sy afgetree en na Pretoria verhuis om nader aan haar kinders te wees. Haar man is op 77-jarige ouderdom oorlede, waarna sy na ’n aftreeoord in Hartbeespoort verhuis het, waar sy tot op 97-jarige ouderdom selfstandig gewoon het.

“Toe het ons maar die streep getrek en gesê sy kan nie meer alleen bly en alles self doen nie. Van daar af is sy nou by ons in Noordheuwel,” vertel Winnie.
Volgens Winnie het Tannie Jossie van jongs af tennis en rolbal gespeel en glo sy sterk daarin om elke dag te stap. Op 86-jarige ouderdom moes die familie haar met moeite oorreed om op te hou tennis speel. Sy het egter tot op 92-jarige ouderdom rolbal gespeel en stap steeds elke dag, al is dit net om die blok.
Tannie Jossie glo dat ’n gesonde liggaam ’n gesonde gees huisves. Ongelukkig het sy op 30 Maart geval en haar heup gebreek.
“Daarom het ons haar verjaarsdag in die hospitaal gevier,” voeg Winnie by.
Winnie beskryf hul familie as groot en baie heg.
“Ma word beslis gesien en erken as die matriarg van die familie. Van die 16 broers en susters leef net sy en haar broer nog, wat ’n afgetrede predikant is en ook reeds in sy negentigs is. Hulle het met ’n liefdevolle ma en ’n streng pa grootgeword, en sterk Christelike waardes is van kleins af gevestig.”
Tannie Jossie lees graag storieboeke en doen al jare lank die blokkiesraaisels van haar gunsteling tydskrif.
“Sy herinner ons elke Vrydag om die nuwe Huisgenoot te koop sodat sy die blokkiesraaisels kan invul. Haar verstand is nog baie skerp, en sy sien selfs beter as ek en my man, wat al in ons sewentigs is,” vertel Winnie.
Haar raad aan jongmense is eenvoudig maar kragtig.

Lees ook: Paardekraal Primary bids farewell to beloved teachers
“Ken die Here in al jou weë, en Hy sal jou paaie gelykmaak,” het sy gesê.
Sy het ook talle verjaarsdagwense van familielede ontvang.
Haar kleindogter, Chantelle Moorrees, haar man Johan en hul twee seuns, Henco en Leon – Tannie Jossie se enigste agterkleinkinders – het geskryf:
“My dierbare ouma, waar begin ’n mens om so ’n wonderlike mens geluk te wens? Dit is nie elke dag dat ’n mens die voorreg het om iemand te vier wat ’n volle eeu van liefde, wysheid en stories agter haar naam het nie.”
Chantelle voeg by dat haar ouma se geloof was nog altyd haar fondament, en deur haar lewe het sy hulle gewys wat dit beteken om met vertroue, dankbaarheid en genade te leef.
“Ons is ongelooflik dankbaar en geseënd om ouma in ons lewens te hê. Ouma is ons rots, voorbeeld en inspirasie. Baie geluk met Ouma se 100ste verjaarsdag. Mag Ouma se dae steeds gevul wees met vreugde, lag en nog ’n paar blokkiesraaisels wat Ouma vinniger as almal anders oplos. Ons is lief vir Ouma, vandag en altyd.”
Haar seun Leon en Winnie het afgesluit dat dit ‘n baie spesiale dag was.
“Nie net vier ons ’n verjaarsdag nie, maar 100 jaar van ’n ongelooflike lewe met ’n nalatenskap wat voortleef in kinders, kleinkinders en agterkleinkinders. Ma het ons geleer dat Jesus die fondament is waarop alles gebou word. Mag ma vandag en elke dag die liefde ontvang wat ma oor die jare vir ander gegee het. Dankie aan ons Hemelse Vader vir die seën en voorreg om hierdie merkwaardige dag saam met ma te vier. Ons is baie lief vir ma.”
