Gholfdag bring hoop en hulp vir 11-jarige kankerlyer Nathan
'n Suksesvolle gholfdag het broodnodige fondse ingesamel om Nathan en sy gesin tydens sy behandeling te ondersteun.
Die gemeenskap het tydens ‘n gholfdagfondsinsameling saamgestaan om die 11-jarige Nathan Britz te ondersteun in sy stryd teen leukemie.
Die Laerskool-Kenmare-leerder is verlede jaar met T-sel akute limfoblastiese leukemie (T-ALL), ’n aggressiewe vorm van bloedkanker, gediagnoseer en het finansiële ondersteuning vir sy behandeling nodig.
Lees ook: Leukemievegter ontmoet sy rugbyhelde


Die gholfdag het op 10 April by die Krugersdorp Gholfbaan plaasgevind en volgens die organiseerder, Tandy Burger, was dit een van die eerste fondsinsamelings vir Nathan.

‘n Totaal van 132 spelers het deelgeneem, met verskeie borge op die veld. Die dag is afgesluit met ‘n prysuitdeling. Daar was ook ‘n veiling van geborgde items, insluitend getekende sportitems en naweekwegbreke. Tandy het bygevoeg dat spelers van so ver as Pretoria gekom het om die inisiatief te ondersteun.
“Al die winste van die dag gaan na Nathan en sy familie vir sy behandeling en finansiële bystand,” het sy gesê.