Krugersdorp verwelkom spierdistrofie-organisasie
Die MDFSA het sy Gauteng-kantoor na Krugersdorp verskuif en bied ondersteuning, verwysings en hulp met genetiese toetse en rolstoele aan mense met spierdistrofie.
Die Muscular Dystrophy Foundation South Africa (MDFSA) het middel-Augustus sy Gauteng-kantoor van Roodepoort na Krugersdorp verskuif, waar dit ondersteuning aan mense met spierdistrofie bied.
Die nie-winsgewende organisasie ondersteun mense wat met spierdistrofie gediagnoseer is deur onder meer maatskaplike en emosionele ondersteuning, mediese verwysings, inligting en bewusmaking.

Volgens MDFSA se nasionale direkteur, Gerda Brown, het die organisasie die afgelope twee jaar sy fokus uitgebrei om ook diagnoses, befondsing vir genetiese toetse en hulp met die aankoop van rolstoele in te sluit.
Spierdistrofie is ’n groep oorerflike spiersiektes wat progressiewe verswakking van die spiere veroorsaak. Daar is meer as 70 verskillende tipes, met simptome wat van geboorte af of later in ’n persoon se lewe kan verskyn.

Die organisasie is in 1974 gestig. Die nasionale kantoor fokus hoofsaaklik op administrasie, toetse en navorsing, terwyl provinsiale kantore meer op direkte ondersteuning fokus.
Die MDFSA is van gemeenskapsondersteuning en skenkings afhanklik.
Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek www.mdsa.org.za.
