Schools

Môre se leiers gekweek

Matrieks van onder andere Nories en HTS N Diederichs leer oor leierskap en om eienaarskap te neem.

AfriForum Jeug het verlede week ’n leierskapsontwikkelingssessie vir hoërskole in Gauteng aangebied waartydens matriekleerders geleer het oor leierskap en om eienaarskap van hul toekoms te neem.

Vyftig matrieks van vyf skole, onder andere Hoër Tegniese Skool N Diederichs en Hoërskool Noordheuwel (albei in Krugersdorp), het die geleentheid bygewoon.

Volgens Adrienne Krause, beampte vir jeugontwikkeling by AfriForum Jeug het sprekers nie net insig gebring nie maar ook ’n nuwe vonk van hoop en selfdoen ontsteek.

“Die Toekomsskeppers-projek is ’n inisiatief deur AfriForum Jeug en AfriForum se afdeling vir Jeugleierskap en Ontwikkeling wat daarop gemik is om jongmense die nodige vaardighede te leer om hul toekoms in eie hande te neem. Beide hierdie afdelings glo daarin om jong sterk leiers te kweek wat geleenthede in hul gemeenskappe skep,” het Adrienne gesê.

Hy het bygevoeg dat een van die sprekers, Ernst Roets, Beleidshoof van die Solidariteit Beweging, gepraat het oor leierskap en die belangrikheid daarvan om betrokke te wees in jou gemeenskap.

“Hy het genoem hoe ons in ’n era van individualisme leef en hoe dit soms daartoe kan lei dat mense onttrek van die gemeenskap, waar hulle nou juis moet terugkeer na hul gemeenskappe en aan hul toekoms moet bou,” sê Adrienne.

Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Jeug, het genoem dat die jeug aanhoudend eienaarskap moet neem van hulle toekoms.

“AfriForum se afdeling vir Jeugleierskap en Ontwikkeling is betrokke by die ontwikkeling van verskeie leierskapsinisiatiewe onder meer die teenboelieveldtog, om jong meisies deur die #EkIsWondermeisie-inisiatief te bemagtig, asook om entrepreneuriese leierskap onder ons jeug te kweek met die Besigheidsbytjies- en Juniorpreneursinisiatief,” het Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap bygevoeg.

“Die jeug is belangrik, asook jeugleierskapsontwikkeling want as ons in ons jongmense belê, belê ons ook in hulle toekoms as toekomstige leiers,” sê Leandie.

Adrienne het afgesluit deur te sê dit is lekker om te sien hoe skole ingekoop is daarop om hul leerders die geleentheid te gee om sessies soos hierdie by te woon.

“Skole gee op hierdie manier vir hul leerders die geleentheid om persoonlik te ontwikkel.”

 
Back to top button