Skoolhoofde hou groot reünie

Vir talle was dit die eerste keer wat hul mekaar weer in vyf jaar gesien het.

Huidige skoolhoofde, asook voormalige, van regoor die Wes-Rand het onlangs saamgedrom en reünie gehou.

Die byeenkoms het verlede maand by Hoërskool Noordheuwel se onthaallokaal plaasgevind en vir talle was dit die eerste keer wat hul mekaar weer in vyf jaar gesien het.

By die geleentheid het Wouter Immelman, voorsitter van die Wes-Randse Hoofdevereniging, al die voormalige hoofde en superintendente van onderwys verwelkom en genoem dat dit vir hulle as hoofde ‘n groot voorreg is om hul oud-kollegas weer te kan sien. Daar is ook met hartseer genoem van oud-hoofde wat veral tydens die Covid-19 tydperk oorlede is.

At Pienaar en Donna Lourens van Laerskool Protearif.

Wouter het gesê dat dit vir die bestaande hoofde verbonde aan die vereniging, ‘n groot behoefte is om te kan ‘teruggee’.

“Ook om te kan dankie sê vir leierskap, voorloop en ‘n magdom insette wat aan die Wes-Rand gelewer is deur die vorige hoofde-groep om van die onderwys aan die Wes-Rand te maak wat dit vandag is,” het Wouter bygevoeg.

Laerskool Bekker se oud-hoofde Willy Potgieter, Thys Bezuidenhout en Andre Opperman.

“Staaltjies oor die verlede is weer opgedien en daar is lekker saamgelag. Dit was vir die oud-hoofde lekker om oor die verlede te gesels en te vertel waarmee hulle hulself besig hou,” het Eugene Grobler, oud-hoof van Laerskool Millennium gesê.

“Na ‘n heerlike kuier het ons mekaar moeilik gegroet met die hoop dat ons mekaar binnekort weer sal sien,” het Eugene afgesluit.

Exit mobile version