Monnas-dansers vier lewe in beweging
Na sewe maande se voorbereiding het Monnas se matriekdansstudieleerders hul dansproduksie gehad.
Hoërskool Monument se jaarlikse dansproduksie is ‘n hoogtepunt op die kalender vir dansstudieleerders, en die oomblik waarvoor hulle so lank gewag het, het onlangs aangebreek.
• Lees ook: Monnas-dansers kort dorp se ondersteuning
Departementshoof Tania Jansen van Vuuren het vertel dat die leerders se tema vanjaar The Paradox of Life was. Die produksie is deur die matriekdansleerders georganiseer, met graad 11-leerders wat ook deelgeneem het.
“Die leerders het opdrag gekry om ‘n tema te kies en navorsing daaroor te doen. Daarna moes hulle musiek kies wat die tema effektief uitlig.
Hulle moes alle produksie-elemente integreer – kostuums, grimering, haarstyle, rekwisiete, beligting, agtergronde en verhoogontwerp.
“Vervolgens moes hulle die tema deur middel van beweging choreografeer. Die graad 12-leerders moes elk ‘n groep van vyf tot 10 dansers choreografeer, terwyl die graad 11-leerders elk ‘n duet of trio moes saamstel,” het sy verduidelik.

Tania het bygevoeg dat die graad 12’s ook die verantwoordelikheid gehad het om die produksie self te organiseer waarin al hierdie dansstukke opgevoer is. Die graad 12’s, 11’s en selfs die graad 10’s het aan die produksie deelgeneem as deel van hul indiensopleiding in verskeie produksiebestuursrolle. Beide die graad 12- en graad 11-leerders het hul groepdanse tydens die aandvertoning opgevoer, waartydens hulle vir hul praktiese taak geassesseer is.

“Hierdie was ons 11de produksie, en vanjaar se dansstukke was van ‘n besonder hoë standaard. Een van die hoogtepunte was beslis die groepdanse. Die graad nege- en graad 10-leerders het vanjaar ook by die senior dansdepartement aangesluit met hul hiphop-item BeatJunkies, gechoreografeer deur juffrou Debbie-Lee Coetzee,” het sy vertel.

“Die kinders werk besonder hard, en hierdie is ‘n reuse taak wat hulle aanpak. Tog verbaas dit my elke jaar hoe grasieus hulle dit hanteer en dit in ‘n groot sukses omskep. Vir sewe maande sit hulle hul hart en siel in hierdie projek. Sewe maande se voorbereiding, tydsbestuur en sweet lei tot ’n absoluut fenomenale produk. Ek voel so nederig oor die ondersteuning wat die dansdepartement en sy leerders van die gemeenskap ontvang – vanaf fondsinsamelings tot die aanmoediging en viering van die leerders wanneer hulle hul laaste buiging maak.
Ons dank God vir al ons talente, Sy leiding, die goeie tye en seëninge op elke stap van die pad. Alles tot eer van Sy Naam,” het Tania afgesluit.





