Norie se ‘cheerleaders’ straal internasionaal
Hoërskool Noordheuwel se cheerleaders het internasionale trots huis toe gebring ná 'n indrukwekkende vyfde en sewende plek by die World Cheerleading Championship in Orlando, Florida.
Vyf talentvolle ‘cheerleaders’ van Hoërskool Noordheuwel het pas teruggekeer van die VSA met harte vol trots, nadat hulle Suid-Afrika verteenwoordig het by die World Cheerleading Championship in Orlando, Florida.
• Lees ook: Vyf Nories cheerleaders op pad na die VSA
Onder leiding van hul afrigter, Justin Baxter, het die span teen topklasse spanne van regoor die wêreld meegeding en merkwaardige prestasies behaal.
Justin vertel dat hulle van 23 tot 25 April aan die gesogte kampioenskappe deelgeneem het, waar hulle teen spanne van lande soos Australië en Japan meegeding het.
Die leerders wat deelgeneem het, was Darius Cornelius, Nikita Keogh, Nikita Pretorius, Venuscha-Lee Smith en Mienke Oberholzer.
Met trots het Justin aangekondig dat hul junior gemengde span van seuns en dogters vyfde geplaas het, terwyl hul junior dogters die sewende plek in die wêreld behaal het.
“Alhoewel organisering en kommunikasie ’n klein struikelblok was, was die hoogtepunt om die span te sien saamwerk en presteer ná jare se voorbereiding. Hulle het ook onder geweldige druk gestaan, maar ons gaan daaraan werk,” het hy verduidelik.
Justin het afgesluit deur te sê dat die span voor meer as 10 000 mense opgetree het en dat hy ongelooflik trots is op hul vertoning.
