Eerste Proteafees laat die publiek sing en spring
Laerskool Protearif se heel eerste Proteafees het amper 1 500 voete op hul gronde gesien, met van die grootste name in Afrikaanse musiek wat opgetree het.
Die Afrikaanse musiekliefhebber-gemeenskap het weer hul merk in Krugersdorp gemaak en in hul massas opgedaag vir die heel eerste Proteafees by Laerskool Protearif op 31 Mei.
Feesorganiseerder Edwin van der Merwe vertel het dat hulle om en by 1 400 mense op die skoolterrein verwelkom het die dag.
Hy het bygevoeg dat van die grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf opgetree het, asook opkomende talent soos Marko le Roux en Shane Freankel.



Volgens die amptelike program het kunstenaars soos DoDo, ONS, Skemer en die Kitaar Kêrels op die verhoog verskyn.
Daar was ook talle stalletjies wat die gevoel van ’n boeremark geskep het. Een van die hoogtepunte van die dag was beslis Francois van Coke se optrede – mense het saam gesing en gejuig,” het Edwin vertel.


Hy het verduidelik dat die fondse wat tydens die fees ingesamel is, ten bate van die skool aangewend sal word, en dat hulle hoop om die Proteafees in die toekoms ’n jaarlikse instelling te maak.
“Baie dankie aan die span van Laerskool Protearif vir hul hulp en ondersteuning, en ook aan al die borge wat betrokke was,” het hy afgesluit.




