Twee Nories in kollig met drama-talente
Keagan Cooper en Line Allen van Nories bring hul talent na die nasionale verhoog in die nuwe seisoen van Gekies vir die Kollig.
Twee leerders van Hoërskool Noordheuwel keer terug na die verhoog as deelnemers in die ATKV se TV-realiteitsreeks, Gekies vir die Kollig, waar jong dramatalente hul slag wys.
• Lees ook: Kollig op twee Norie dramaleerders
Volgens Mercia Eksteen, ATKV se hoofbestuurder van kommunikasie, is vanjaar se tema eenvoudig onweerstaanbaar. Agt jong akteurs is gekies om deel te neem – insluitend twee leerders van Noordheuwel.
“Die top agt finaliste word in Julie na die stel genooi, waar hulle onder die magnetiese inspirasie van vanjaar se vier mentors – Jacques Bessenger, Marlo Minnaar, Lindsey Abrahams en Hannah Borthwick – hul tegniek en spel sal slyp. In hierdie laaste fase, net voor hul televisiedebuut, wag daar nuwe energie, inspirasie en ’n verrassende kinkel,” het sy gesê.

“Die finaliste se werk sal in die program beoordeel word deur ’n splinternuwe beoordelaarspaneel wat geen vorige blootstelling aan hul produksies gehad het nie. Hierdie objektiewe benadering verseker dat elke produksie op sy eie magnetiese meriete beoordeel word,” het sy bygevoeg.
Sy het die Norie-leerders Keagan Cooper, in die Oudi(sies)-produksie, en Line Allen, in ’n Lem sonder ’n landlyn, bekendgestel.
Sonet Guy, bemarkingshoof van Nories, het bevestig dat die leerders gekies is en gesê die skool is vreeslik trots op hulle.
Dit is werklik ’n groot prestasie, en ons kan nie wag om die program te kyk nie,” het sy afgesluit.
