Monnas-leerders skitter by simfonie-orkes in Pretoria
Ses Monnas-leerders het hul musiektalent by die Universiteit van Pretoria se verrykingskursus op indrukwekkende wyse gewys.
Ses magneetskoolleerders van Monnas het onlangs weer die verrykingskursus by die Universiteit van Pretoria (UP) bygewoon.
• Lees ook: Sterk leierskapspan neem oor by Monnas
Volgens Karin Scholtz, departementshoof van die musiekskool, het die leerders die geleentheid gehad om meestersklasse in-persoon by te woon en ook by die UP-simfonie-orkes aan te sluit.
“Die week se aktiwiteite het op ‘n hoë noot afgesluit met ‘n simfonie-orkes uitvoering in die Aula-ouditorium. Die Aula-verhoog was stampvol instrumentaliste.
Meer as honderd jong musici het met geesdrif en toewyding saamgewerk om onder leding van Schalk van der Merwe ‘n pragvertoning op die planke te bring!” het Karin gesê.
Sy het bygevoeg die week was ‘n hoogtepunt vir die leerders.
“Hulle het by hierdie orkes aangesluit vir drie repetisies en een wonderlike opvoering. Hulle het vanjaar op filmmusiek gefokus en musiek gespeel uit bekende Hollywood-flieks soos The Pirates of the Caribbean (Hans Zimmer), The Dark Knight – Batman (Hans Zimmer), Star Wars (John Williams) en The Lord of the Rings (Howard Shore),” het Karin vertel.

Die leerders wat betrokke was, is:
• Jonah James Birkholtz op viool
• Tadiwanashe Mwandiambira op viool
• Carmen Saayman op altviool
• Uma Booyzen-Pillay op tjello
• Hesmari de Klerk op tjello
• Irma Ammann-Van der Merwe op fluit
