Schools

’n ‘Blast from the Past’ vir Bastion matriekklas van ’90

Oud-Buffels van die 1990 Hoërskool Bastion matriekgroep herleef skooldae vol lag, herinneringe en vriendskap 35 jaar later!

Vyf-en-dertig jaar nadat Hoërskool Bastion se matriekgroep van 1990 uit die skoolhekke gestap het, het hulle ’n nostalgiese byeenkoms as deel van hul reünie gehou.

Inwoners Sonette Myburgh en haar vriendin, Sanet Combrink, het reeds sowat 17 jaar gelede ’n Facebook-groep, Bastion Matrieks van 1990, gestig. Hulle, saam met Karien van der Walt, het die 10- en 20-jaar reünies gereël.

Susan en Sarel van der Walt, ‘n oud-onderwyser.

“In 2020 was dit eintlik veronderstel om ons 30-jaar reünie te wees, maar weens Covid-beperkings kon daar nie partytjies gehou word nie. Ek het toe besluit dat ons nie moet wag vir die 40-jaar reünie nie en op die amptelike groep ’n plasing gemaak dat dit weer tyd is vir een,” het Sonette vertel.

Lourens Swanepoel en Francois Coetzee by die reünie.

Oud-hoofseun Ryno Deysel het toe betrokke geraak en ’n nuwe komitee is saamgestel.

Die reünie het op 27 September in die skoolsaal plaasgevind. Sonette het beklemtoon hoe belangrik dit vir hulle is om kontak te hou.

Agter is Tomie Meyer en Johan de Lange en voor sit Dewald van Deventer saam Hannes le Roux.

“Ons het vriendskappe gesmee wat nou reeds langer as 30 jaar strek. Sommige van ons was selfs van laerskooldae af vriende. Al is ons wydverspreid oor die aardbol, maak tegnologie en sosiale media dit makliker om in aanraking te bly, maar niks vervang ’n aangesig-tot-aangesig ontmoeting nie. Soos ’n mens ouer word, is daar nie meer die ‘klieks’ wat daar in hoërskool was nie – dit is lekker om te deel in jou vriende se wel en wee,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg dat dit die doel van reünies is: “Om saam te lag, kuier en gesels sonder veroordeling en met opregte belangstelling.”

Ryno Dysel, Karen van der Walt, Nico Niemann en Sonette Myburgh by hul 35-jaar reünie.

Die groep het dit gepas gevind om terug te keer na hul alma mater, waar hul vriendskappe jare gelede begin het. Sowat 85 oud-Buffels het saam gespitbraai, rugby gekyk en gesokkie. Selfs van hul voormalige onderwysers het kom deelneem.

“Die reünie was beskryf as ’n ‘blast from the past’. Omdat so baie van ons in die buiteland woon, en reeds heelwat vriende oorlede is, kon ons skaars helfte van die oud-matrikulante bymekaar kry,” het Sonette verduidelik.

Sy beskryf die atmosfeer as vrolik, maar ook nostalgies.

Rolf en Lorraine Wiers saam Danel Steyn en Lindie Powrie by die reünie.

“Almal was al vir weke opgewonde oor die affêre en kon nie wag om mekaar weer in die vlees te sien nie.

“Die hoogtepunt was om almal saam te kry vir ’n groepfoto! Dit was ’n dolle geskarrel, net soos in die ou dae. Ons ou onnies was natuurlik die gewildste – hul wange was heel moontlik seer geglimlag vir al die foto’s! Die fotohokkie was beslis ’n wenner – almal kon huis toe gaan met ’n aandenking van ’n onvergeetlike dag,” het sy vertel.

Sy het met ’n glimlag bygevoeg dat dit ’n speletjie was om uit te vind wie wie is.

“Die vroue was almal nog redelik herkenbaar, maar die mans! Dis moeilik om ’n bebaarde of bles man te vereenselwig met ’n skoongesig jong seun wat saam met jou op skool was! As dit nie was vir hul teenwoordigheid by die reünie nie, sou ons mekaar heel moontlik nooit herken het as ons verby mekaar op straat geloop het nie. Dit was absoluut wonderlik om weer soveel van ons skoolmaats te sien,” het sy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Heinrich Greyling

Heinrich Greyling is a LLB student, which gives him an eye in fairness towards everything he writes about, with a passion of uncovering the truth. If the relevant information is available, he is willing to help anybody, with a keen interest in hard, crime, entertainment, municipal, human interest and automotive journalism. He is a journalist who is willing to write about anything, no matter the controversy or risks involved.
Back to top button