Proties maak golwe met hul krieketkolwe
Laerskool Protearif spog met vyf talentvolle spelers wat hul plek in verskeie streekspanne losgeslaan het.
Met ’n krieketkolf in die een hand, ’n bal in die ander en hope deursettingsvermoë het Laerskool Protearif se krieketspan onlangs indrukwekkende prestasies behaal.
Volgens die skool se krieketorganiseerder, Danie Brits, is vier talentvolle seuns ná ure se oefening en proewe gekies om deel te wees van die Gauteng-Wes-spanne vir hul onderskeie ouderdomsgroepe. Hierdie spanne sluit skole van Krugersdorp, Randfontein, Carletonville en Fochville in.
• Lees ook: D2-titelglorie vir Proties o.12-hokkiedogters
Zakk Janse van Rensburg, Liam Janse van Rensburg (o9), Xavier Kok (o12) en Ethan Henning (o13) is gekies vir die Gauteng-Wes-span, terwyl Mené Combrink (o12) tot die Gauteng Leeus Dogterskrieketspan verkies is.
“Dit is ’n fantastiese prestasie,” het Danie gesê.
Hy het bygevoeg dat die spanne deurlopend aan vriendskaplike wedstryde deelneem en dat die vakansie afgeskop het met ’n kriekettoernooi teen ander streke.
“Al die harde werk, entoesiasme en ure se oefening pluk beslis vrugte,” het hy afgesluit.
