Trotse Nories blink uit by nasionale toneelfees
Met stukke soos Sonderling en Wisselkind asook Skande! En ’n snytjie brood het Hoërskool Noordheuwel se leerders hul merk gemaak tydens die nasionale ATKV-Tienertoneelkompetisie.
Hoërskool Noordheuwel het geskiedenis gemaak tydens die ATKV-Tienertoneel toe hulle die eerste skool ooit geword het wat met drie toneelstukke in die top agt geëindig het.
Die kompetisie het van 6 tot 11 Oktober plaasgevind, waar 37 Nories Kaap toe gereis het om by die Baxter-teater in Rondebosch deel te neem.
Volgens die skool se kultuurhoof, Mariki de Villiers-Knop, was die drie stukke Sonderling en Wisselkind, Antler en Skande! En ’n snytjie brood.
“Dit was ’n aand om te onthou. Die teater was deurentyd Norie-blou toe die nominasies en nasionale wenners tydens die finaal aangekondig is,” het Mariki gesê.
• Lees ook: Nories maak toneel-geskiedenis

Na ’n jaar van harde werk het Nories die volgende prestasies behaal – 14 nasionale nominasies en ses nasionale wenners:
• Beste akteur: Rico Immelman
• Beste aktrise: Lenadri Groenewald
• Beste ondersteunende aktrise: Chenique Pieterse
• Beste klankoperateur: Markus Knop
• Beste beligtingsoperateurs: Connor McKenzie en Daniel Kirsten
• Beste regisseurs: Robert Kruger en Suné Senekal

Algehele uitslae:
• Derde plek: Sonderling en Wisselkind
• Tweede plek: Skande! En ’n snytjie brood
“Die werk van al die skole was fenomenaal. Ons was bevoorreg om die verhoog te deel met ongelooflike stukke van talle ander skole,” het Mariki gesê.
Sy voeg by dat die leerders nou al uitsien na volgende jaar.
“Ons is hartseer oor die 16 matrieks wat klaarmaak. Hulle was die hart van hierdie seisoen, maar ons sien uit om voort te bou op vanjaar se sukses en om mense weer te inspireer met gehalte-teater.”
Met trane van trots vertel Mariki verder: “Dit voel amper onwerklik. Ek besef dis net deur God se genade. Die standaard van die kompetisie is ongelooflik hoog, en my dankbaarheid is enorm vir die sukses wat ons behaal het. Ek is so dankbaar vir die span wat help om die wa deur die drif te trek: Suné Senekal, Amore van Zyl, Aileen Engelbrecht en natuurlik die ongelooflik begaafde Robert Kruger, wat al drie stukke geskryf en geregisseer het. In hom het ons ’n ware juweel – en die beste is dat almal in die span oud-Nories is.”
