Marlothii Eisteddfod laat Kennies se talente blom
Van die jongste tot die oudste Kennie het hul kultuurtalente met selfvertroue ten toon gestel tydens Laerskool Kenmare se jaarlikse Marlothii Eisteddfod.
Laerskool Kenmare se jaarlikse Marlothii Eisteddfod was ‘n besondere week vol talent, passie en onvergeetlike optredes.
Die eisteddfod het van 27 tot 30 Julie plaasgevind en volgens die skool se bemarker, Mignon Basson, het leerders van graad R tot graad sewe aan verskeie afdelings deelgeneem, waaronder Afrikaanse en Engelse gedigte, redenaars en ander kultuuritems.

Die senior leerders het hul items in Laerskool Kenmare se skoolsaal aangebied, terwyl die junior leerders in die Marlothii-saal opgetree het.
“Dit was ‘n waardevolle geleentheid vir ons Kennies om hul talente te ontwikkel en met trots op die verhoog uit te leef,” sê Mignon.

Sy voeg by dat die Marlothii Eisteddfod jaarliks aan die begin van die derde kwartaal aangebied word en aan leerders die geleentheid bied om hul kultuurtalente te ontwikkel, selfvertroue op die verhoog te bou en aan verskillende afdelings deel te neem.
“Dit was die ideale manier om die derde kwartaal af te skop. Ons Kennies het hul liefde vir kultuur met trots uitgeleef en elke optrede het gewys hoeveel talent daar binne ons skoolgemeenskap is,” sluit sy af.
