LettersOpinion

Pasop vir hierdie troeteldieroppasser

H Kruger van Krugersdorp skryf:

Toe ons vir ‘n paar dae gedurende die Julie-skoolvakansie wou wegbreek, het ons besluit om van ‘n persoon gebruik te maak wat ons diere kan versorg, ‘n sogenaamde “pet sitter”/ au pair.

Na deeglike navorsing, onderhoude en verwysings het ons toe op die geskikte persoon besluit.

Die persoon het onderneem om om 5nm tuis te kom, die diere te versorg en oor te slaap nadat sy vir haarself kos gemaak het (wat sy self sou voorsien).

Soggens om 5vm sou sy weer vertrek om haar dagtaak te gaan verrig.

In werklikheid het sy egter my huis oorgeneem nadat sy die dag na ons vertrek in ‘n “ongeluk” betrokke was. Dit het veroorsaak dat haar vriend by haar moes bly om haar te versorg aangesien haar “longe kon platval”.

Die onaangename werklikheid het ons getref toe ons tuis aanland; toe ek die deur oopsluit het ‘n oliereuk my getref, vermoedelik veroorsaak deur herhaalde gebruik van die diepbraaier op hoë hitte. Sy het haarself ook gehelp aan ons wildsbiltong, ‘n kilogram margarien, rys, kookolie, aartappels ens en die huis het soos ‘n varkhok gelyk.

Vermoedelik is hier heerlik partytjie gehou – ek moes 15 glase was en die buitedrom was vol leë drankbottels. Die stoof was totaal onbruikbaar vuil en sy het selfs my wasmasjien gebruik en nie die uitlaatpyp gekonnekteer nie, sodoende is die badkamer oorstroom! Om die water mee op te droog het sy dit goedgedink om sommer my badhanddoeke en los matte te gebruik. Daar was nie ‘n gordyn onaangeraak gelaat nie en die meubels was nie op hul regte plekke nie.

My huishulp het die volgende dag drie ure gebruik net om die stoof skoon te maak. Alle borde, messe, vurke, potte en panne moes gewas word – alles was bedek met ‘n lagie vetterigheid. Die matte het oral oliekolle op, die bad is gelaat met ‘n pikswart ring, natuurlik tot boordens toe volgemaak; en so kan ek voortgaan …

Aspirantkliënte – wees gewaarsku! Die vermoede bestaan nou dat haar sogenaamde verwysings haar familie en/ of vriende kan wees. Ons sal vir seker nie op haar lysie vir toekomstige verwysing wees nie, daarom skryf ek hierdie brief. Maak baie seker voordat julle alles vir soetkoek opeet …

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button