
Dit is met ongeloof dat ons kyk na wat deesdae in Krugersdorp se parke aangaan.
Hierdie parke kan eintlik as gevaarlik en morsig beskou word. Dit sluit in Breaunanda, Hartford- en Patrickstraat asook Skreenpark.
Na bewering word kondome vrylik by skole uitgedeel en word dit oral in hierdie parke opgetel, self op sekere inwoners se sypaadjies.
Die ander euwel wat toeneem is die gebruik van dwelms (‘n wit poeier in ‘n klein plastieksakkie) en as die wind dit skep eindig dit op in iemand se erf. Dieselfde gebeur met drankbottels waarvan sommige teen klippe stukkend geslaan word.
Motorfietse en vierwielfietse vernietig ook alles en hierdie persone gee geensins om vir mede-inwoners of die omgewing nie. Is die skuldiges ook bedwelm? Of dit in die dag of nag gebeur, iemand sien julle tog; het julle nie enige skaamte of trots nie?
Die vraag is, waarheen is ons nasie op pad? Dit sluit alle kleure in.
Ouers moet liefs toesig hou oor hulle kinders wanneer hulle van enigeen van hierdie parke gebruik maak.
Nog ‘n kwessie is die storting van enige soort vullis in hierdie parke. Sommige inwoners maak van tyd tot tyd self skoon, net om te sien dat iemand weer ‘n sak met vullis neergesit het.
Het diegene wat so optree dan nie vullistrollies nie?
Dit gebeur ook meestal snags en die skuldiges word ook deur iemand opgemerk. Sommige inwoners se sypaadjies is vol gemors en dit sal help indien huisbewoners ook ten minste hulle sypaadjies skoonhou. Die een bevolkingsgroep kan geensins die ander een blameer nie. Niemand wil tog in ‘n omgewing woon wat op die ou end soos ‘n plakkerskamp lyk nie.
‘n Ander saak is honde.
Daar is al heelwat in die koerant oor hierdie kwessie geskryf. So baie honde blaf aanhoudend in die nag, terwyl daar niks in die straat is nie. Bure kan nie slaap nie en mens wonder hoe op aarde die honde-eienaars kan slaap. Omliggende bure ken nie hierdie truuk nie.
‘n Groot dankie aan inwoners in Krugersdorp wat wel omgee.
