LettersOpinion

Dagmoeders moet ook betaal word

Hartseer en bekommerde dagmoeder van Krugersdorp skryf:

Dit is met ‘n swaar hart dat ek hierdie brief skryf, maar ek voel dat dit my plig is om ander dagmoeders attent te maak op hierdie persoon.

Ek is ‘n geregistreerde dagmoeder en het al ‘n hele klompie jare na kinders gekyk, selfs gestremde kinders.

Die jong dametjie het haar dogtertjie vantevore gebring dat ek na haar moes kyk. Alles het goed gegaan, maar die jong ouers het gesukkel. Ek het hulle jammer gekry, maar uiteindelik het hulle die kind na iemand anders se sorg geneem en dit nadat hulle drie maande nie betaal het nie.

Omdat hulle gesukkel het en ek die kind jammer gekry het, het ek die saak daar gelos.

Vroeg in Januarie hierdie jaar op ‘n renerige Sondagagtermiddag kom die einste jong dametjie weer vra of ek na haar dogtertjie sal kyk asook die nuwe baba van twee weke, want sy moet die volgende dag weer begin werk en sy het niemand om na die kinders te kyk nie. My hart het uitgegaan na die klein babatjie en het ingestem om na die kinders te kyk. Kostes was uiteengesit en ook die tye.

Eerstens was die tye glad nie nagekom nie en was die kinders net voor 7vm soggens afgelaai en net na 7 saans is die kinders gekollekteer. Ek werk nie Saterdae nie en het dit duidelik gestel. Beide ek en my man is pensioenarisse en vind dat naweke beslis ons tyd is veral omdat ek na die kinders kyk gedurende die week.

Maandeinde het gekom en gegaan en beloftes van oorbetaling was daagliks gemaak, maar amper twee weke in die volgende maand was die kinders sommer weggeneem sonder notifikasie.

Na talle oproepe was ek ingelig dat die kinders êrens anders geneem is.

Ek het toevallig die mense geken waar die kinders toe onder toesig was gedurende die dag.

Dis nou amper agt maande later en wag ek nog steeds op my betaling en is bewus daarvan dat dit nie die eerste keer is wat die dame mense ‘n rat voor die oë draai nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button