Ek wil graag dankie sê.
My driejarige seun en my 12-jarige dogter is tans in Voetspoortjies Kleuterskool in Krugersdorp-Wes.
Vir ‘n werkende ma is dit so gerusstellend om te weet dat daar mense met liefde vir kinders is wat elke dag moeite doen wanneer hulle na my kinders kyk.
Voetspoortjies is ‘n kleuterskool sowel as ‘n naskoolsentrum (die naskool het onlangs oopgemaak).
Die eienaars Rina en Lucas is dierbare mense wat jou kind se belange op hulle hart dra. So iets is in vandag se tyd skaars. Die kleuterskool is veilig, die kinders kry drie keer per dag kos en hulle bied lekker aktiwiteite en uitstappies waaraan die kleinspan kan deelneem.
Onlangs het hulle ‘n baie suksesvolle oupa- en oumadag gehad en almal het dit vreeslik geniet.
My oudste dogter is in die naskoolsentrum. Hulle laai haar elke dag by die skool op en dan word daar hard gewerk aan haar huiswerk; en natuurlik sorg hulle dat die pensie ook vol is.
Dit help my regtig so baie om te weet sy kry die aandag wat sy nodig het met haar skoolwerk!
Haar punte het al klaar soveel verbeter te danke aan Lohann van Tellingen wat baie tyd en aandag aan die skoliere gee.
Hulle het regtig soveel moeite gedoen met die naskoolsentrum. Daar is nuwe klaskamers, rekenaars en alles wat skoliere nodig het om goed te presteer.
Ek wil vra dat ouers hierdie pragtige skooltjie ondersteun. Die mense is opreg en hul liefde vir kinders is sigbaar.
Hulle het nog baie plek beskikbaar, veral in die naskool. Ouers, julle sal nie spyt wees wanneer julle dadelik ‘n verbetering in julle kinders sien nie.
