
Ons wil vir Willie en sy gesin en vriende baie dankie sê dat julle ons oom Naas aan ons terug besorg het.
Dis deur mense soos julle wat so oplettend is dat oom Naas weer veilig by sy huis is.
Dit is regtig deur die Here se genade dat julle hom raakgesien het. Ook baie dankie aan die polisie van Krugersdorp wat ons regtig bygestaan het.
Daar is van meer as net een metode gebruik gemaak om hom te probeer opspoor.
Oom Naas, wat aan Alzeimers ly, het op 3 November by Dr Yusuf Dadoo Hospitaal verlore geraak nadat hy by ‘n ander uitgang uitgegaan het as wat sy seun gedink het hy sou.
Ons was so bekommerd oor hom omdat hy niks geld aan hom gehad het nie.
Nadat Willie-hulle ‘n man gesien sit het by sekuriteit by mynhope, was hulle na die hospitaal toe omdat sy sussie ‘n babatjie gekry het. Hulle het die foto wat ons daar opgesit het, raakgesien en die man herken wat hulle by die mynhope gesien sit het.
Hulle het terug gery en hom gaan haal en ons gebel en ons by President Hyper ontmoet vir herontmoeting met ons stoute oubaas.
Dit was al toe 4 November, die middag.
Oom Naas was net erg getraumatiseerd aangesien hy nie geweet het waarheen om te gaan en van waar hy kom nie – hy kon nog altyd sy weg na ons huis toe vind, maar nie die keer nie.
Natuurlik honger, maar na ‘n bord kos en ‘n lekker beker koffie en ‘n stort, lyk hy weer goed.
Baie dankie Willie, julle het vir ons ‘n groot Kersgeskenk gegee. Dankie ook aan almal wat bygedra het en ons ondersteun het in die tyd. Baie dankie.
Dit voel of ons dubbele Kersfees het.
