
Op 30 Desember om 5.37nm is ek reg voor my huis in Vierdestraat aangerand en beroof.
Ek was op pad huis toe van die winkels af en toe ‘n man verby my loop. Hy het ‘n wit baadjie en ‘n denim met swart skoene aangehad. Toe ek die pad wou kruis om na my huis toe te gaan, gryp die man my van agter af, verwurg my, gooi my op die vloer, sleep my, skop my en trap op my kop al het ek hom probeer keer.
Hy gryp toe my foon en hardloop. Ek het op die grond gelê en gegil vir hulp, ‘n wit kar wat verby gery het, het gesien wat gebeur het en gestop om te help. Ek het opgestaan en agter die man aan gehardloop om my foon terug te kry.
My boetie wat by die huis was het my gehoor gil. Hy het toe oor die hek gespring en hardloop toe ook om die man te vang.
In Viljoenstraat, om die draai van Vierdestraat, vang my broer toe die man en gryp hom. Die man het my foon op die grond gegooi en my broer het die man daar gehou. Mense in die buurt het uitgekom en gehelp terwyl ons vir die polisie gewag het om die man te kom vat.
Ek wil graag baie dankie sê aan almal wat gestop het om te help. My lewe was in gevaar vir ‘n foon en ek is bly dit was nie erger nie, maar as dit nie vir mense was wat omgegee het nie sou dit dalk baie lelik uitgedraai het.
Baie dankie ook aan my buurt wat my gehelp het, dit laat ‘n mens net besef daar is mense wat nog omgee en skelms hoort agter tralies vir lewe.
Suid-Afrika sal ‘n beter en ‘n veiliger plek wees as sulke mense gestraf word vir hulle kwaaddoenighede!
Ek wil ook net vir die vrou se wat nie gesien het wat gebeur het nie, maar sê dat my lewe dit nie werd is nie, dis as gevolg van mense soos jy dat kriminele weg kom en dat soveel ander mense dood is vir ‘n selfoon omdat mense soos jy hulle net wil laat gaan!
Kriminele hoort agter tralies!
