LettersOpinion

Baie dankie aan die DA

Belinda Paar van Silverfields skryf:

Ek baklei al vir ‘n jaar sonder enige sukses met Mogale City Munisipaliteit oor ‘n rekening van R13 528,16 wat ek in Januarie 2013 ontvang het.

Volgens hulle het hulle vir drie jaar geen toegang tot my erf gehad om die lesing te kon neem nie, en toe hulle wel toegang kry was hulle estimate verkeerd en is my rekening agter.

Ek werk van my huis af omdat ek na my gestremde dogtertjie moet omsien, so ek is elke dag by my huis en hulle was hier om die lesings te neem en ek het hulle toegang gegee. Hulle het die data óf verloor óf nooit op hulle sisteme gesit nie.

Ek het ‘n brief van dispuut persoonlik by hulle kantoor gaan inhandig, en aangehou om elke maand my rekeninge te betaal behalwe die bedrag in dispuut.

Volgens wet mag hulle nie jou krag of watertoevoer afsny totdat albei partye nie tot ‘n skikking gekom het oor die dispuutbedrag nie. Op my rekening het hulle die tarief verkeerd uitgewerk en onnodige kostes bygesit.

In Desember het hulle my watertoevoer kom afsny, (nie ‘n druppel water vir vyf dae nie) wat onwettig is. Die dispuut is in verband met my elektrisiteit en nie met my water nie; en die watermeter is op die sypaadjie, nie binne my erf nie, so niks het hulle gekeer om dit te lees nie, en my rekening wys ook dat die water op datum is.

Ek betaal elke maand my rekening, net nie die bedrag in dispuut nie. Ek het die kantore probeer oorreed om my watertoevoer te herstel, maar sonder enige sukses. Ek is vertel “as jy die een nie betaal nie, sny ons die ander een”!

Uit moedeloosheid het ek die DA se kantore geskakel, en ek moet sê ek het nie veel hoop gehad dat ek sou regkom nie, maar ek was desperaat!

Ek het my saak aan die man wat die foon geantwoord het verduidelik en hy het my verwittig dat hy nie die persoon is om mee te praat nie, maar dat hy sal uitvind wie is, en my sal terug skakel. Ek het gedink ‘ja ek het die storie al hoeveel keer by Mogale City gehoor en niemand bel ooit terug nie’!

So nog ‘n muur waarin ek vasloop!

Tot my verbasing het Annette Fourie van die DA my teruggeskakel en gevra of sy my kan help. Sy het dadelik die Munisipaliteit geskakel en my watertoevoer is weer herstel, nie voluit nie, maar ten minste het ek water tot my beskikking gehad.

Ek het haar bedank vir haar hulp en belowe dat ek dit aan die koerant sal vertel sodat mense kan sien dat die DA nie net ‘praat’ is nie maar dat hulle regtig baklei vir mense se regte. My plan was om te wag tot Januarie omdat niemand die koerant in Desember vakansietyd gaan sien/ lees nie. Net sowel ek het gewag!

Ek het na al die bakleiery besluit om oor die rekening te onderhandel sodat die nagmerrie tot ‘n einde kan kom. My aanbod was nie aanvaar nie. Ek het dit aan vyf mense by Mogale City per e-pos gestuur, en raai wat? Die volgende dag sny hulle toe my krag ook af!

Ek het die vrou gebel wat hulle uitstuur om die krag af te sny en sy het my meegedeel dat een van die bestuurders haar opdrag gegee het om dit te sny en sy kan niks vir my doen nie. Die volgende dag het ek hulle kantore weer geskakel en was verbaas om te verneem dat die bestuurder wat sy genoem het met verlof is, so hulle weet nie hoe sy die opdrag van hom kon ontvang het nie!

Een middag sien ek ‘n motor voor my hek, en ek stuur toe my seun om te gaan hoor wat hulle daar doen (my krag is mos nou afgesny so my alarm, elektriese heining en hek werk nie; hulle kan net die baksteen voor die hek se wiel verwyder, dan gly my hek sommer vanself oop). Hulle antwoord toe,”We are not here for you but for the people across the road”. Een gaan klop toe nogal aan by die mense. My seun loop weg maar my gestremde dogtertjie bly by die hek. Na ‘n paar minute roep ek haar en sy bring toe vir my ‘n bladsy wat hulle vir haar deur die hek gegee het. Glo dit of nie hulle het my water kom toe maak! Weereens sit ons sonder ‘n druppel water.

Dit was 4nm op ‘n Vrydagmiddag, wat beteken dat niemand ‘n foon antwoord as jy hulle probeer bel nie.

Ek was so gefrustreerd dat ek vir Annette ‘n sms gestuur het, ek wou dit net met iemand deel. Sy het my dadelik terug geskakel en gesê wat ek moet doen om die saak reg te stel. Behalwe vir dit kon ek nie glo toe sy my meedeel dat sy ook namens my die saak opgeneem het met die CFO van Mogale City nie. Ek was regtig verbaas om te hoor dat sy my nie net een keer gehelp het en vergeet het van my nie. Sonder dat ek bewus was daarvan het sy nogsteeds die saak verder geneem en namens my probeer uitsorteer.

Ek wil net vir almal sê, ‘n mens kyk nuus en sien dat Helen Zille probeer om vir ons menseregte te baklei teen die ANC, maar mens besef nie dat hulle regtig persoonlik betrokke raak by mense se probleme nie. Soveel mense sê “ag hoekom moet ons ons tyd gaan mors om te stem, die ANC gaan in elk geval weer wen”. Maar elke stem gee hulle meer mag in die Parlement. Ek stem elke jaar vir hulle net sodat die ANC ‘n bietjie van ‘n oposisie kan hê. Volgende keer stem ek vir die DA omdat die DA werklik bewys het hulle raak persoonlik betrokke!

Baie dankie Annette Fourie vir jou moeite, al was ek nie eens bewus daarvan dat jy nogsteeds namens my baklei vir my persoonlike rekening nie.

Ek hoop dat elke mens hierdie brief lees en sal sien dat die DA daar is om vir menseregte te baklei. Kom ons hou op kla omdat ons land en regering in so ‘n toestand is, en doen iets omtrend dit!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button