
Ek is ‘n plaaslike inwoner van Magaliesburg en wil almal in kennis stel dat daar oral nuwe padtekens rondom ons dorp aangebring word wat seker ‘n goeie ding is.
Maar daar is een belangrike aspek wat Gautrans glad nie doen nie en dis eerstens om die spoed van voertuie en veral trokke te verminder wat deur die dorp ry, of sal ek sê jaag.
Vir jare is dit al ‘n debat oor wat gedoen moet word om dit te verbeter, maar geen oplossing is nog gevind nie.
Een van die grootste probleemareas bly die oorgang by die BP vulstasie waar ‘n mens eers jou lewe moet waag om oor te kom of selfs met die helfte van jou kar se neus in die pad moet staan net om regs verby die bome te kan sien om oor te kom.
Wat kan gedoen word om die probleem op te los?
Dan ook die straatligte voor die spoorlyn wat seker nou al ‘n jaar lank buite werking is.
Dit is pikdonker as jy in die dorp in ry en baie gevaarlik veral by ‘n besige spoorlyn.
Dan ook is daar geen ligte by die kruising van die Koster-pad nie en hou dit ‘n gevaar in veral vir ons voetgangers.
Daar word ook oral voetoorganglyne geverf, wat ‘n goeie plan is, maar in die dorp self word daar niks gedoen nie. Mense moet hardloop om veilig oor die pad te kom.
