
Ek woon ook in Strubenrylaan en het daagliks noue ontkomings by die kruising met Robert Broomrylaan, veral wanneer ek uit Stubenrylaan wil regs draai in Robert Broomrylaan (westelike rigting).
Die aankomende baan (westelike rigting vanaf Leeustraat) maak ‘n duik in die pad en dan ‘n hoogte waar voertuie dikwels nie sigbaar is wanneer ek tot in die middel by die middelmannetjie stilstaan en ek die aankomende verkeer moet observeer voor ek draai nie.
Wanneer ek in die westelike rigting in Robert Broom vanaf Leeustraat ry en wil regs draai in Strubenrylaan is daar eerstens die palmbome waarvan die takke die aankomende verkeer moeilik sigbaar maak. Ek stel voor dat net die onderste takke verwyder moet word aangesien die bome pragtig is en nie so ‘n gevaar sal inhou wanneer hulle groot is nie. Eiendomsagente se borde versper ook die sig vir aankomende voertuie by genoemde kruising.
Voertuie ry baie vinnig in Robert Broom. Baie mense van die omgewing stap en moet by genoemde kruising Robert Broom kruis. Ek het al gesien hoe voetgangers moet hardloop om nie raakgery te word nie. Ek het self ondervinding hiervan.
Die oplossing is ‘n vierrigtingstopstraat met die dun vierstreep-teerwaarskuwingshobbeltjies wat dikwels voor groot kruisings op die teer gelê word met padtekens wat aandui dat daar ‘n draai in die pad en ‘n stopteken is. Om ‘n groot spoedhobbel oor die pad te plaas gaan nie werk nie – in Wrenstraat is so ‘n spoedhobbel waarvan die verf al afgery is. Mense wat nie bekend is daarmee nie kan dit nie sien nie aangesien dit in die skaduwee van bome is.
Robert Broom se konstruksie is ook nie na wense wanneer mens na die pad se camber [ronding of afskuinsing] kyk nie, spesifiek waar die ongeluk was waarin die seuntjie gesterf het en sy mammie in ‘n koma is. Daar is ook ‘n duik in die pad waarna die draai in die pad volg. Daardie spesifieke ongeluk dink ek is ook veroorsaak deur die groot gat in die teeroppervlak na al die reën.
Verder wil ek ook vra of die vierrigtingstopstraat by Robert Broom en Cecil Knight dalk in Robert Broom van die genoemde vierstreep-teerwaarskuwingshobbels kan kry. Daar is ook gereeld voertuie wat van die westelike rigting af deurry sonder om te stop. Dit is nog ‘n baie slegte kruising wat padtekens nodig het.
