
Na aanleiding van u voorblad artikel in die Krugersdorp news van 18 April, lig ek graag my mening oor die situasie.
Ek woon oorkant die mense wat nie bedel nie – in Wentworth Park, nie in Mindalore soos berig is nie.
Die rommelverkope-bedrywighede wat daagliks, naweke sowel as publike vakansiedae plaasvind is werklik ‘n seer oog vir die omgewing.
Wanneer ons kuiergaste ontvang is hul heel eerste reaksie, “Wat gaan hier oorkant die straat aan?”, wat ons in ‘n taamlike verleentheid dompel.
Ek verstaan en het deernis met mense wat swaar kry, maar as jy tien honde aanhou wat elke dag van dou voor dag tot middernag blaf en almal in die buurt irriteer, is dit dalk ‘n begin om hulle minder te maak.
Ek sal ook graag reaksie wil hê oor die wettigheid daarvan om ‘n besigheid op die sypaadjie te bedryf sonder ‘n lisensie.
Laastens wil ek nie negatief wees nie, maar die seer oog dra ook by tot die verlaging van die waarde van eiendom in die omgewing.
