LettersOpinion

Bedelaars in supermarkte

Mev EH Brits van Noordheuwel skryf:

Ek wil vir u vertel wat met my gebeur het.

Saterdag 24 Mei vroegoggend het ek niksvermoedend in Checkers ingestap om my inkopies te doen toe ‘n jong mannetjie my nader en vra of hy my iets mag vra. Ek het toe maar na sy jammerstorie geluister.

Hy het gesê hy vra nie vir geld nie maar of ek net vir sy goedjies sal betaal.

Ek het met groot verbasing na die mannetjie en die inhoud van die mandjie gekyk. Daar was net ‘n brood, een liter vaniljemelk,’n stukkie kaas en ‘n klein pakkie suiker asook mansdeoderant daarin.

Ek het gesê dit is reg maar hy moet net die melk omruil vir gewone melk want ek betaal nie vir luukses nie.

Nadat ek vir hom gevra het of hulle ‘n yskas het het hy my geantwoord dat hulle nie een het nie en het toe besluit dat dit beter vir hom sal wees om eerder langlewemelk te neem sodat dit langer sal kan hou, waarna ons dit gaan omruil het.

By die betaalpunt wou die jong mannetjie ook nog ‘n plastieksakkie hê. Hy was nogal omgekrap toe ek nee sê.

Ek het betaal en die mannetjie het net geloop en nie eens die ordentlikheid gehad om dankie te sê nie.

Ek het toe ‘n man wat baie ontsteld was by die volgende kassier opgemerk en hom gevra wat die probleem is. Hy het my vertel dat hierdie mannetjie by almal in die winkel staan en bedel.

Baie verbaas het ek vir hom gesê dat ek vir hom jammer gevoel het en nou net vir sy paar goedjies betaal het.

Die bestuurder van Checkers het ons hoor praat en gevra wat aangaan.

Ons het haar toe vertel wat gebeur het. Sy het die jongman onmiddellik laat opspoor en die inkopies by hom afgeneem.

Tot my verbasing het ek gesien dat ek nie die enigste was wat vir sy onderskeie inkopies betaal het nie. Die besturder het vir my gesê dat dit nie toegelaat word om in Checkers te bedel nie, en gevra dat ek nooit weer iemand wat bedel of dié soort taktiek gebruik moet help nie.

Nadat hulle die goedere by die mannetjie afgeneem het, het sy my geld teruggegee, waarvoor ek baie dankbaar is. Ek voel seergemaak dat mense jou goedgunstigheid so kan misbruik.

Nou vra ek al die mense en veral die bejaardes om nie na mense se swaarkrypraatjies in winkels te luister en hulle te vertrou nie want hulle misbruik net jou goedheid en sagte hart.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button