
Na aanleiding van die berig Gevaarlike kruising behou sy naam, skryf ek graag die volgende:
Ek bly net om die hoek van daardie kruising en ek kan uit ondervinding getuig dat nie net die glipweg ‘n veiligheidsprobleem is nie maar ook die wyse waarop die karre vanuit Albertina Sisuluweg regs of links in John Hoatsonstraat moet draai. My opinie: maak die glipweg toe.
Daar is geen rede waarom die glipweg daar moet wees aangesien die inwoners aan die bokant van Wentworthpark al die ander paaie voor die verkeerslig gebruik om by hulle onderskeie wonings uit te kom.
Graag sal ek ook binnekort ‘n verandering aan die draai-aanwysings (wat ook ‘n groot ongeluksgevaar inhou) wil sien.
Dit het al menigte male gebeur dat ek staan en wag om regs te draai terwyl daar aankomende verkeer is, en sodra die groen pyltjie vir my aan kom, moet ek nog steeds staan en wag vir aankomende verkeer wat dan wil links draai want daardie voertuig moet agter my in John Hoatsonstraat indraai en nie soos by ‘n normale verkeerslig voor my links draai nie.
Ek het ten minste twee keer bitterlik naby aan ‘n lewenseisende ongeluk gekom aangesien die mense wat dan van voor af kom ook wil draai en dan vinniger ry sodat hulle nie die pyltjie mis nie.
Daardie kruising moet dringend beveilig word want ek belowe dat ek almal by Mogale City Verkeersdepartement verantwoordelik sal hou indien daar enige iets met my familie gebeur as gevolg van swak beplanning!
