
Dis met groot waardering dat ek vandag die brief skryf.
Graag wil ek net van die geleentheid gebruik maak om die barmhartige samaritaan te bedank vir sy hulp.
Op 1 Julie was ek en my ma in ‘n ligte motorongeluk betrokke op die hoek van Luipaard- en Krugerstraat. ‘n Groot vragmotor het van bane verwissel en volgens hom nie die motors langs hom gesien nie – of so het die bestuurder gesê.
Ek en die motor agter my was in die linkerbaan – die vragmotor het van die regterbaan af oorgekom en my motor regs agter getref.
Hy het eenvoudig aangehou ry. Alhoewel ek sy aandag probeer trek het om te stop, het hy my geïgnoreer.
Die bestuurder agter my, wat ook amper saam met my van die pad afgedruk is, het vooruit gery en die vragmotor gekry om te stop.
Sodoende kon ek gelukkig die nodige besonderhede van die bestuurder en sy maatskappy kry. Ek het so groot geskrik dat ek skoon vergeet het om die weldoener se besonderhede te vra.
Alhoewel ek hom bedank het voordat hy gery het, voel ek steeds dankbaar en wil weereens net sê dankie, dankie dat jy nie twee keer gedink het om ons te help nie!
