
Ek verwys na die artikel in Krugersdorp news van 27 Junie met opskrif Herwinning maak ‘n verskil. Die artikel gee ‘n eensydige weergawe van die “hernuwingsfabriek” in die sentrale sakekern van Krugersdorp.
Die verdere feite rondom dié bedryf is onder andere die volgende :
Mnr Van der Berg het nie toestemming van die Mogale City Munisipaliteit om die “hernuwingsfabriek” vanaf die perseel in Von Brandisstraat te bedryf nie en dit is dus ‘n onwettige bedryf.
Omliggende eiendomseienaars het al verskeie klagtes oor die absolute onaanvaarbare, onhigiëniese toestand by en in die onmiddellike omgewing van die gemelde bedryf by Mogale City aangemeld . Rommel en gemors versuur die hele omgewing en as die wind waai of dit reën is die omgewing besaai met allerhande rommel vanaf die perseel.
Rotte en peste broei uit in die opgestapelde afval en skep ‘n algemene gesondheidsgevaar, veral aangesien ‘n kleuterskool oorkant die straat van die perseel bedryf word.
Sommige dae kan die pad voor die perseel kwalik gebruik word soos dit besaai lê met rommel wat uitgegooi en in die straat en selfs oorkant die straat op die munisipale parkeerterrein gesorteer word.
Mnr Van der Berg is deur die Stadsraad kennis gegee om die bedryf te verskuif maar dusver weier hy hardnekkig om gehoor te gee. Dit laat my dink dat die artikel slegs geplaas is om simpatie te wek en ‘n rede te vind om nie die bedryf na ‘n nywerheidsgebied te verskuif nie.
Die bedryf is onaanvaarbaar binne die sakekern van Krugersdorp.
Paper Waste Man-eienaar Albert van der Berg reageer:
Dit wat ons doen is nie onwettig nie.
Ons perseel is geregistreer as ‘n Business 1. Business 1 volgens munisipale wetgewing beteken dat jy enige iets kan doen op die perseel. Ons hoef nie in ’n nywerheidsgebied te wees nie aangesien ons niks vervaardig nie, maar ‘n diens lewer.
Ons het nog geen klagtes ontvang nie, en ons het al ons direkte bure gevra en niemand het al gekla nie.
Ons het ook ‘n persoon aangestel om heeldag om die perseel skoon te maak.
Ons het nie rotte op die perseel nie aangesien ons rotlokaasstasies het, wat deur ‘n ander maatskappy
<ct:Italic>Die kleuterskool het ook glad nie probleme gehad met ons toe ons met hul gesels het nie.
Ons is deur die stadsraad kennis gegee en dit is oorhandig aan ons perseel se eienaar. Ons het ook vir die munisipaliteit gevra om ons tyd te gee om ‘n ander perseel te soek, en ons het een gekry.
Ons sal egter ‘n paar goedjies moet doen om te kan skuif, en daarvan is daar kennis geneem deur die munisipaliteit.
Ons werk ook saam met die parke-afdeling van die munisipaliteit om ‘n perseel te kry aangesien hulle ons diens belangrik ag. Ons kry ook gereeld besoek van die gesondheidsraad en voldoen elke keer aan hul vereistes.
