
Graag wil ek ook iets sê. Almal lê ‘n eier oor Anoniem wat skryf oor die dames wat ‘n bietjie moeite moet doen.
Kyk om jou rond. Vandag se vrouens is lui om moeite te doen. Nêrens in daardie brief word gesê jy moet duur klere of duur grimering koop nie; ek dink julle ruk die brief heeltemal uit konteks.
Julle is vinnig om te vra hoe die koerant so iets kan plaas. Maar ek dink Anoniem het party dames ‘n bietjie oor hulle vingers getik.
As mens die brief lees, dink aan jouself. As jy goed voel oor jou voorkoms dan is daar mos niks verkeerd nie.
En dames kan baie lelik agter ander dames se rug praat oor hulle voorkoms. Ek dink Anoniem het ‘n kans gewaag om oor iets te skryf wat regtig gebeur.
Ek persoonlik sien daardie brief as ‘n riglyn; trek klere aan wat jou liggaamsbou pas, was jou hare gereeld.
Jy het nie nodig om geld te spandeer om moeite te doen nie. Ek dink elke mens lees en verstaan die brief op sy of haar eie manier.
