
Ek is inkomstelose werkende blanke man en werk al hele paar jaar met sommige van die inwoners van Kroningspark.
Na verlede week se artikel in die news en die lesers se kommentare wil ek as buitestander graag saampraat.
Daar was positiewe kommentaar oor die situasie en dan was daar die uiters negatiewe en afbrekende opmerkings vanuit die gemeenskap.
Blanke armoede is ook nie uniek in ons geskiedenis nie. In 1994 was daar ongeveer 40 000 arm werklose blankes in Suid-Afrika. In 2004 toe ek as 51-jarige en as gevolg van SEB en regstellende aksie ook my werk verloor het, was ons arm, werklose blanke siele op 245 000 bereken.
In 2008 was ons ongeveer 600 000 en verlede jaar ongeveer 800 000 armblanke siele regoor SA.
Ons werklose, arm blankes is tans oor ongeveer 463 wit nedersettings/ plakkerskampe regoor ons land versprei met die hoogste konsentrasie van 87 in en rondom Pretoria.
Ongeag waar ons armoede aanspreek is daar ernstige vrae wat gevra moet word. Daar is egter basiese vrae wat enige organisasies mee kon wegspring:
• Is dit onmiddellike nood?
• Is dit duplisering van noodbehandeling?
• Is dit herhalende nood?
• Is dit ‘n fase waar rehabilitasie moet plaasvind?
• Is hier al langtermynoplossings en ekonomiese ontwikkeling om die vryval, buite beheer spiraal van grootskaalse armoede te stuit en om te keer?
In die jare wat ek van Welkom na Kroningspark reis het ek al met verskeie lidmate van kerke, organisasies, geestelike leiers en selfs die gemeenskap van Krugersdorp probeer hande vat om saam aan oplossing vir inwoners van die park te werk.
Die hartseer is dat elke persoon, organisasie, kerk en leier wat ek genader het my duidelik laat verstaan het dat hul hulp van die mense onttrek het en nooit weer daar betrokke wil raak nie. Daar is ‘n paar jaar gelede ook ‘n video-opname gemaak en redes verskaf hoekom al die organisasies onttrek het.
Ek het die afgelope jare gereeld met van die verkeersligbedelaars gesels. Ek praat nie van die dwelmverslaafdes en diegene wat nie in die kamp woon nie. Ek praat van die vernielde, moedelose manne en vroue wat nie alkohol gebruik en/ of rook nie, wat oor tydperke daar gestaan het en soms steeds daar staan.
Kroningspark se inwoners verdien nie die nydigheid en erge kritiek wat na hul kant toe kom nie.
Ons mense ondersteun eerder die Sjinees se goedkoop winkeltjie as wat hul ‘n entjie verder gaan na Kroningspark en gaan soek om mense te ondersteun wat wel probeer.
