
Op Sondag 7 Desember het ek die volgende voorval waargeneem by ‘n winkelsentrum waar ‘n bekende Afrikaanse sanger opgetree het.
‘n Man en sy drie kinders het buite die toegangshekke gestaan en dit het voorgekom of hy met hulle raas. Nie lank daarna nie het die ma aangekom met nog twee kinders. Ek het haar onmiddellik herken as ‘n gereelde robotbewaker (met ‘n houertjie in die hand natuurlik). Terwyl ek nog staan en wonder oor die situasie het sy toegangsbandjies om sommige van die kinders se arms, en natuurlik haar eie en haar man s’n, vasgemaak.
Die uiteinde was dat hulle nie genoeg kaartjies gehad het vir almal nie wat tot gevolg gehad het dat die een kind in trane uitgebars het. Nadat ‘n weldoener die ma geld in die hand gestop het om nog kaartjies te gaan koop, is die laaste twee toe ook geholpe.
Nou wonder ek; as sy kan bedel om vir vermaak te betaal, waarvoor word die geld nog gebruik? Daardie geld kon ‘n hele paar dae se brood voorsien het.
Waarom het hulle vyf kinders? Liewe genade, voorbehoeding is die een ding wat almal gratis kan kry maar nie wil gebruik nie.
Hoe harteloos kan mens wees? As daar nie genoeg vir almal is nie, bly almal daarsonder of ma en pa moet maar opoffer. Dit laat my dink dat dit met ander dinge sekerlik ook so gaan – indien daar nie genoeg is om te eet nie, kies hulle dan ook watter kinders honger gaan slaap?
Daarom is ek van menig dat mense moet ophou om bedelaars met kontant te voer. Dit is tog duidelik dat bitter min van die skenkers se swaar verdiende geld gebruik word vir die doel waarvoor dit gegee word!
Ek het so pas weer gelees van ‘n voorval waar ‘n bedelaar by ‘n robot ‘n vrou verbaal aangerand het en haar kar geruk en pluk het omdat sy nie wou geld gee nie.
Stop asseblief die skenkings – wanneer hulle nie meer kry nie, sal hulle ook nie meer die hoeke volstaan nie. Daar is genoeg plekke in die dorp wat hulp verleen aan mense wat werklik honger is.
