
Aan die onderwyseresse van my dogtertjie se kleuterskool: Ek kan nie genoeg vir julle dankie sê vir wat julle in die laaste drie jaar vir my dogtertjie gedoen het nie.
Ons as ouers besef nie aldag watse groot rol julle in die klein mensies se lewens speel nie.
Ek wil net vir elkeen van julle baie dankie sê vir al julle moeite, julle harde werk en julle omgee vir ons kindertjies. Dit vat ‘n spesiale mens om met soveel klein kinders te werk. Dit was vir ons ‘n seën om deel te kon wees van die skool; om my dogtertjie so gelukkig te kon sien laat enige ma se hart beter voel.
Dit is met ‘n seer hart dat ons totsiens sê vir julle, want ek weet Twanét gaan julle almal vreeslik mis.
Al die spesiale geleenthede en konserte was ‘n hoogtepunt in ons kinders se jaar en elke jaar doen julle soveel moeite om dit vir hulle spesiaal te maak.
Baie dankie vir elkeen van julle – Adrie, Annemarie, Carin, Amanda, Mariet, Elna en ook Lizzy in die kombuis en Sindisile!
Julle is beslis die beste kleuterskool aan die Wes-Rand!
