
Ek wil dit weereens onder die aandag van die Krugersdorpse owerhede (veral die Verkeersowerhede en Publieke Veiligheid) asook die publiek bring dat spoedkaartjies vanaf Mogale City Departement by huise afgelewer word per hand, per gewone pos.
Ek het gister ‘n dagvaring ontvang om Maart in die hof te verskyn vir twee onbetaalde boetekaartjies in terme van Artikel 17(1) van die Aarto-wet wat voorheen by my huis afgelewer is en onbetaald is.
Volgens die Aarto-wet, nommer 46 van 1998, word spesifiek bepaal dat enige verkeersoortreding aan die oortreder bestel moet word op die volgende wyses (en ek haal aan):
1. In persoon, op die plek van oortreding (art 3 (1)a), of
2. Per geregistreerde pos (art 3 (1)b), waardeur die oortreder die boete fisies afhaal met bewys deur die toon van ‘n geldige ID dokument of paspoort en dan daarvoor teken.
Dit is dus duidelik dat die owerhede self die wette van die land oortree en dan verwag dat die skuldige partye die wette moet gehoorsaam. Dit is ‘n beginselsaak! Sou die boetes op die regte voorgeskrewe manier bestel word, sal die skuldige party die boetes vereffen en sy/ haar pligte nakom en skuld erken soos dit ‘n wetsgehoorsame Suid-Afrikaanse burger betaam.
Is dit ons reg om te kla en te vra dat wette gehoorsaam word en nagevolg word of het Suid-Afrika regtig verval in die wettelose land soos wat ons die afgelope paar jaar in oog beleef het?
Ek vra maar net ‘n eerlike vraag en verwag hiermee tesame net absoluut ‘n eerlike antwoord! Ter wille van alle wetsgehoorsame Suid-Afrikaanse burgers.
