
Dit is met absolute afgryse dat ek die artikel ‘n Monumentale seksskandaal op u webtuiste gelees het.
Nie oor die inhoud nie, maar eerstens oor die feit dat u dit nodig geag het om hierdie artikel te plaas en verder die wyse waarop die berig bewoord is. Die vraag wat by my opkom is, wat is die nodigheid om die berig te plaas?
Hierdie was ’n geslote insident. Dit is nie ’n geval van ’n verkragter of kindermolesteerder wat kinders in die gemeenskap of elders bedreig nie. U het dus hierdie berig geplaas met die uitsluitlike doel om hierdie kinders, wat reeds swaar gebuk gaan onder hul oordeelsfout of indiskresie, verder te verneder en onder verdere spanning te plaas.
U poging om hierdie sensasiebeluste artikel te regverdig deur ’n “besorgde ouer” voor te hou is vir enige regdenkende mens snert. Waarom sou ’n ouer ’n koerant skakel om hierdie “probleem” uit te sorteer? En wat sou u per slot van sake kon doen om die “probleem” op te los? En waaroor sou die ouer dan nou “besorgd” wees? U onderskat die intelligensie van u lesers as u dink u lesers glo die nonsens ten opsigte van ’n “besorgde ouer”.
As iemand enige oordeel oor die kinders, wat in jeugdige onbesonnenheid sou “gesondig” het, wou uitspreek, nooi ek die sondeloses en lelie-wittes uit om dit te doen. Anders bly stil.
* Geagte Mienke, baie dankie vir jou skrywe. Wees asb verseker dat daar wel ’n besorgde ouer ons geskakel het – ons het die telefoonoproepopname as bewyse. Die besluit om die artikel te plaas is gebaseer op die besorgde ouer se bewering dat die skool die situasie probeer toesmeer het en omdat daar gerugte was dat die polisie by die skool was weens ’n misdaad. Ons het bloot net die waarheid gepubliseer.
