Na aanleiding van die berig van oor ‘n vrou wat talle frustrasies ervaar het om ‘n interdik te bekom teen haar man wat haar gedurig aanrand, wat op die News se webtuiste verskyn het, wil die News se plaaslike regsgeleerde, Christo Swart hierdie aspek van gesinsgeweld en interdikte, bespreek.
Ongelukkig is die gebruik van geweld deel van sekere huishoudings. Uiteraard het enige vorm van geweld, ‘n uiters nadelige effek op die betrokkenes, vir die res van hulle lewens. Daar is gelukkig hoop vir diesulkes wat onder geweld deurloop!
Die Wet op Voorkoming van Gesinsgeweld, Wet 116 van 1998, soos gewysig, maak voorsiening dat daar ‘n lig kan skyn in die donker tonnel, vir persone wat geboelie word deur allerlei vorme van geweld.
Optredes wat aldus voorkom kan word is legio – van fisiese, seksuele, emosionele en psigologiese aanranding, tot dade van ekonomiese misbruik, intimidasie, skade aan eiendom en dies meer. Vra gerus jou prokureur, om jou tot bystand te wees met sodanige aansoek, om ‘n interdik te verkry teen die boelie wat dink hy/sy kan die reg in eie hande neem.
Die plaaslike Landdroshof is normaalweg die roete om te volg ten einde ‘n interdik te verkry. Die prosedure behels dat die applikant (hetsy eggenoot, kind, verloofde, persoon wat saambly ens.) ‘n eedsverklaring aflê, via die Klerk vir Gesins en Familiegeweld. ‘n Landdros sal die besluit neem om ‘n tydelike interdik uit te reik, met ‘n spesifieke keerdatum waarop ‘n finale interdik toegestaan kan word. Hierdie maatreël dien om die respondent die geleentheid te bied om sy/haar kant van die saak te stel, aangesien hierdie roete ongelukkig ook somtyds misbruik word.
Die respondent sal op die keerdatum sy/ haar kant stel en sal die voorsittende beampte dan ‘n besluit neem of die interdik finaal gemaak word, al dan nie. Onthou om deurentyd die regsbeginsel – hy/sy wat beweer moet bewys- in gedagte te hou. Onthou om jou bewyse sorgvuldig te bewaar –dalk by ‘n kennis – aangesien die boelie baie graag die bewyse sal vernietig wil hê.
Ten slotte – die Hof staan baie beskermend teenoor persone wat onder geweld deurloop – veral teenoor vroue en kinders. Wees dapper en stap weg van so ‘n siek verhouding, dit kan jou en jou kinders se lewe net positief verander.
* Christo Swart is verbonde aan die Southern Business School of Law en kan gekontak word te cswart@sbs.ac.za. Southern Business school also presents the opportunity for learners to study part time, a Higher Certificate in Paralegal Studies.
