
Dit is nou al maande lank dat die verkeer op die N14 na Pretoria tot stilstand kom – kamstig omdat die pad geteer word. Maar van Januarie af gebeur niks.
Eintlik het die werk al verlede jaar begin stilstaan en dit is elke oggend en aand ‘n nagmerrie om by die werk en die huis te kom. Wie het alweer die kontrakgeld gesteel of laat rondlê, en wie is verantwoordelik vir die pad?
Die pad is in elk geval soos hul agterente geteer waar hulle verlede jaar gewerk het.
Op party plekke is die teer so glad jy moet mooi ry anders gly jou kar. Op ander plekke is die teer so sleg gegooi dit lyk kompleet of daar nog nooit teer was nie.
Net die pad is geskraap en dan op plekke is daar weer gate of slaggate.
Het ons nie die reg om die storie verder te vat nie? Ons betaal heffings en hoë pryse vir petrol, maar ons moet tevrede wees om elke dag 20 minute tot 45 minute in verkeer te staan, want daar gebeur niks op die hoofweg nie. Ek glo ek is nie die enigste een wat so voel nie.
Ons word gedwing om alternatiewe roetes te ry en dit is ook ‘n nagmerrie want ‘n mens staan steeds en wag in die verkeer.
Dit kos ‘n mens meer brandstof om al hierdie alternatiewe roetes te vat.
Dan net iets wat ook interessant is: die polisie en verkeersbeamptes wat op die kant van die pad waar die geel lyn is verby ‘n mens jaag waar jy op die hoofweg staan, dra nie eers veiligheidsgordels nie.
Party is op hul selfone besig terwyl hulle bestuur en meeste van die tyd lyk dit of hulle gewone mense vervoer want nie almal het uniforms aan nie.
Nou vra ek jou, hoe moet ons respek hê vir die gesag as die reëls en regulasies nie vir hulle tel nie?
Ek hoop regtig dat julle kan help om die probleem verder te vat en miskien kan uitsorteer en verligting bring vir ons padgebruikers.
