
Eerstens wil ek Mogale City se paaie- en instandhoudingafdeling bedank vir die goeie werk wat hulle doen. In vergelyking met ons buurdorpe is ons paaie in ‘n puik toestand. Daar is plek vir verbetering om verkeer beter te laat vloei.
Op pad Pretoria toe op die N14 merk ons dat daar kilometers van die pad voltooi is maar nie afgegee is vir die padgebruikers nie. Dit veroorsaak onnodige vertragings, veral as ‘n swaar of stadige voertuig voor jou beland.
Ek het reeds vantevore gekla oor die besoekers wat die Silverstar Casino verlaat in die rigting van Pretoria. Die verkeer na Krugersdorp word vertraag as gevolg van swak beplanning. Die beplanning moes voorsiening maak vir ‘n duikweg onderdeur die N14 sodat verkeer vanaf die Pinehaven-kruising nie opdam voor Silverstar nie. Sou die brug by die Pinehaven-kruising ‘n werklikheid word, sal die verkeer tot stilstand gebring word voor die Casino.
Robert Broomrylaan is ‘n groot nagmerrie. Die pad moes lankal reeds verbreed gewees het tot waar dit aansluit by Wilgerood aan die CR Swart-kant. ‘n Verkeerslig ontbreek by die kruising van Van Oordtstraat en Robert Broom. Spitsverkeer word daar erg vertraag.
Die pyltjie vir verkeer by die N14-afrit na Robert Broom is slegs reguit, wat gaan veroorsaak dat jy in die veld oorkant Robert Broom gaan beland.
Dit moet vervang word met ‘n pyltjie vir verkeer wat net regs draai.
